Groot transaksies word beoog tussen Cell C en sy grootste aandeelhouer om die moontlikheid van ’n notering makliker te maak.
Blue Label Telecoms, sy grootste aandeelhouer, het Maandag gesê hulle beplan ’n herstrukturering om die ontbondeling en potensiële notering van Cell C te vergemaklik.
Met ’n belang van 49,5% soek Blue Label finale regulatoriese goedkeuring om ’n bykomende 4%-belang te verkry, wat sy eienaarskap tot 53,5% sal opstoot en aan Blue Label beheer oor Cell C sal gee.
Blue Label het reeds in Mei aangekondig dat hy dit oorweeg om Cell C afsonderlik te noteer.
Skuld in ruil vir aandele
Die voorgestelde herstrukturering voor notering sluit in dat verskeie eise van The Prepaid Company (TPC), ’n filiaal van Blue Label wat Cell C se lugtyd-onderneming bedryf, aan die netwerkoperateur oorgedra sal word.
TPC kry daarvoor aandele in Cell C.
Die eise beloop altesaam R3,7 miljard.
Cell C het reeds twee weke gelede oor ’n aansienlike regulatoriese hekkie gespring toe die Mededingingstribunaal die inlywing van die Comm Equipment Company (CEC), voorheen ’n filiaal van TPC, by Cell C sonder enige voorwaardes goedgekeur het. Dié oordrag beloop R2,15 miljard.
Lugtyd met ’n verkoopwaarde van tussen R7,3 miljard en R7,5 miljard sal ook van TPC na Cell C oorgedra word in ruil vir aandele.
Aandele van SPV’s verkry
TPC sal ook die aandele in Cell C verkry wat deur die spesialedoelondernemings SPV4 en SPV5 gehou word ter vereffening van die skuldverpligtinge van daardie entiteite teenoor TPC.
Blue Label het verskeie spesialedoelondernemings (SPV’s) gedurende Cell C se vorige herkapitaliserings in onderskeidelik 2017 en 2022 gestig. SPV4 en SPV5 is as deel van die vorige herkapitaliseringstransaksie geskep.
Notering onseker
Blue Label het beklemtoon die aankondiging beteken nie dat hulle met die notering sal voortgaan nie.
Die herstrukturering voor notering en Cell C se notering bly onderhewig aan verskeie voorwaardes, waaronder goedkeuring deur die direksies van Blue Label en Cell C, gunstige marktoestande en regulatoriese vereistes.
Groter belang nie permanent
As deel van die beplande herstrukturering voor notering, sal Blue Label deur middel van sy filiaal TPC aanvanklik sy aandeelhouding in Cell C verhoog deur die omskakeling van die eise en bates in aandele.
Die groter belang is egter volgens Blue Label nie bedoel om permanent te wees nie en hy sal ná notering, indien dit plaasvind, sy aandeelhouding in Cell C verminder deur van die aandele te verkoop.
Na dié verkope word verwag dat TPC se aandeelhouding in Cell C tot ongeveer 26% sal daal.
Cell C vaar goed
Blue Label het Woensdag sy voljaarresultate vir die boekjaar tot einde Mei bekend gemaak. Cell C se bydrae tot die groep se wins was R1,5 miljard en sy bydrae tot die kernverdienste per aandeel R1,68.
Die groep se bruto wins was R3,38 miljard en die kernverdienste R2,71 per aandeel.
LEES OOK | Blue Label waardeer Cell C op R4,7 mjd., wik en weeg nog oor notering
Direkteur wil op voorsitterskap fokus
Luidens ’n ander Sens-verklaring Maandag het Johannes Mthimunye, ’n onafhanklike nie-uitvoerende direkteur van Blue Label en sy filiale, bedank.
Hy het bedank ten einde meer op sy rol as onafhanklike voorsitter van die direksie van Cell C te fokus.





















