DStv het ’n nuwe betaalmetode op die MyDStv-app bekend gestel wat kliënte toelaat om die koste van ’n enkele intekening met ’n vriend of gesinslid te deel.
MultiChoice, wat DStv-besit, het Dinsdag in ’n verklaring gesê die nuwe funksie weerspieël die werklikheid van gedeelde leefreëlings waar intekenkoste dikwels tussen huishoudings verdeel word.
Deur die app te gebruik, kan die primêre rekeninghouer nou ’n skakel na ’n ander persoon stuur om tot die maandelikse intekening by te dra, met die rekening wat tussen twee mense verdeel kan word. Dit is ontwerp om kostedeling eenvoudiger en deursigtiger te maak.
Die app is gratis vir alle DStv-intekenare.
DStv sê hy het in November en Desember verbeterde intekenaargroei-tendense gesien en besluit om aanbiedinge en produkverbeteringe aan te kondig wat daarop gemik is om sy diens toegankliker te maak, asook makliker om te deel en makliker om daarmee verbind te bly.
Die groeitendense kom nadat die maatskappy die afgelope twee boekjare byna 3 miljoen kliënte verloor het.
LEES OOK | DStv: Miljoene minder intekenare én hul kyktyd word minder
Nog 3 permanente kanale
Luidens die mediaverklaring het DStv sy Access-pakket verbeter deur drie kanale by te voeg: Trace Ngoma (voorheen Trace Africa), Trace Gospel en WWE.
“Die toevoegings verbreed die mengsel van musiek, godsdiens en vermaak wat beskikbaar is op een van DStv se bekostigbaarste pakkette en verseker dat kliënte wat kies om koste te bestuur deur op Access te bly steeds ’n goeie diens ontvang wat in hul behoeftes voorsien.”
Canal+, wat MultiChoice in September oorgeneem het, het einde Desember op die nippertjie ’n transaksie met Warner Bros. Discovery onderteken om 12 kanale te red wat van DStv af sou verdwyn.
LEES OOK | 12 DStv-kanale gered ná ooreenkoms met Warner Bros. wyl 4 sluit
Intussen is daar kommer oor HBO-reekse wat stil-stil van Showmax af verdwyn het, met MultiChoice wat sê “die beskikbaarheid van reekse is onderhewig aan deurlopende lisensiëring en verspreidingsooreenkomste”.
LEES OOK | Gunstelingreekse van HBO verdwyn stil-stil van Showmax
Apparatuurpromosie
Om verbruikers nog meer tegemoet te kom, het die maatskappy die prys vir die intreevlak-HD-dekodeerder tot R499 laat val, waar dit gewoonlik R899 sou wees. Met installasie kos dit nou R799, waar dit gewoonlik R1 299 gekos het.
Die Explora-model-3B-dekodeerder is ook tans met 57%-afslag van R2 299 tot R999 verlaag. Dié prys is egter slegs ’n aanlyn promosieaanbod.
“Die afslagprys is ontwerp om apparatuur as ’n hindernis te verwyder – of kliënte nou nuwe DStv-kliënte is, ouer toerusting vervang, ’n ekstra televisie byvoeg, of weer aansluit ná ’n onderbreking.”
Willington Ngwepe, uitvoerende hoof van MultiChoice, sê hulle wil kliënte opsies bied wat dit makliker maak om verbind te bly, selfs wanneer begrotings knap is.
Die promosieaanbod is beskikbaar tot 30 April en mense kan by dienssentrums, agentskappe, kleinhandelaars of aanlyn by dstv.com daarvoor aansoek doen.












