DStv het goeie nuus vir Discovery Bank-kliënte

DStv het vandeesweek ’n vennootskap met Discovery Bank aangekondig waar kliënte tot 50% van hul DStv-pakketbetalings in Discovery Miles kan terugkry.
DStv het vandeesweek ’n vennootskap met Discovery Bank aangekondig waar kliënte tot 50% van hul DStv-pakketbetalings in Discovery Miles kan terugkry. (Foto: Verskaf)

DStv-kliënte met ’n Discovery Bank-rekening kan nou tot 50% van hul pakketbetaling in Discovery Miles terugkry.

Die beloningsaanbod is deel van ’n nuwe vennootskap tussen Discovery Bank en DStv, wat tot 30 Junie beskikbaar is. Daarna verander die aanbod na ’n beloning van tot 25% terug.

Hylton Kallner, uitvoerende hoof van Discovery Bank, sê hul vennootskap met DStv is ’n natuurlike uitbreiding van hul beloning-ekosisteem om hul kliënte se daaglikse lewens te weerspieël.

“Om saam met Discovery te werk om ons kliënte sulke goeie waarde te bied, is ’n voor die hand liggende keuse,” sê Willington Ngwepe, uitvoerende hoof van MultiChoice.

Wat beteken ‘tot 50%’ in Discovery Miles?

DStv-kliënte met ’n DStv-pakket of DStv Stream-intekening kan tot 50% terugkry in Discovery Miles op hul DStv-pakketbetalings wanneer hulle vanaf ’n kwalifiserende Discovery Bank-rekening betaal.

Dit word bereik deur die Discovery Bank-kliënt se standaard-beloningskoers gedurende die veldtogtydperk te verdubbel. Byvoorbeeld as ’n Discovery Bank-kliënt normaalweg 15% sou verdien, sal hulle 30% gedurende die veldtog verdien.

Om te kwalifiseer moet mens die primêre rekeninghouer van ’n transaksie-, kredietkaart- of suite-rekening wees, ’n aktiewe Vitality Money-status hê en aan die minimum maandelikse kwalifiserende besteding voldoen.

DStv verloor intekenare

Luidens Canal+, wat MultiChoice in September verlede jaar oorgeneem het, se voljaarresultate einde Desember het ’n halfmiljoen mense verlede jaar besluit om nie meer MultiChoice-intekenare te wees nie. Dit bring die totale intekenaarbasis op 14,4 miljoen te staan.

LEES OOK | MultiChoice verloor nog halfmiljoen intekenare

Om intekenaargroei weer aan die gang te kry, het Canal+ gesê hulle is van plan om ongeveer €100 miljoen in MultiChoice te belê om onder meer duisende ure se plaaslike inhoud vir Afrika te vervaardig.

Nóg ’n toerusting-promosie

DStv het ook nóg ’n toerusting-promosie waar die prys vir die intreevlak-HD-dekodeerder R299 is, met installasie R499, bekend gestel.

Die promosie vervang die wat van Januarie tot April vanjaar geduur het. Die prys van die intreevlak-HD-dekodeerder het toe van R899 tot R499 geval. Met installasie het dit R799 gekos, waar dit gewoonlik R1 299 gekos het.

Die R299-promosie duur tot 15 Augustus.

LEES OOK | DStv kondig nuwe betaalmetode aan

Die promosies kom nadat David Mignot, Canal+ se Afrika-hoof, in Maart gesê het hulle werk daaraan om die intree-pakkette vir dekodeerders goedkoper te maak, aangesien dit gemiddeld €38 (ongeveer R700) in MultiChoice-lande kos teenoor slegs €13 (ongeveer R250) in Canal+-lande.

LEES OOK | Canal+ wil eie stromingsdiens na SA bring – en só vergelyk dit met DStv

Mignot het gesê hulle is van plan om die koste te subsidieer en dekodeerders en skottels te standaardiseer.

– stefani.terblanche@media24.com

SPELETJIES VANDAG

CTA