Die Nasionale Verbruikerskommissie gaan ’n gedetailleerde verkennende ondersoek na die e-handelsmark in Suid-Afrika doen.
Die doelwit is om te bepaal of enige spesifieke gebied ondersoek verg ingevolge die Wet op Verbruikersbeskerming. Maatreëls word reeds oorweeg om wetgewing te versterk en dit in ooreenstemming met die e-handel-ekostelsel te bring, sê Parks Tau, minister van handel, nywerheid en mededinging, in antwoord op ’n parlementêre vraag van Sinawo Thambo, EFF-LP.
Thambo wou weet of Tau daarvan bewus is dat Temu, een van die groot Chinese handelsplatforms, ’n pakhuis in Suid-Afrika het, al besit of bedryf hy geen verspreidingsentrums regstreeks nie.
Temu adverteer sedert Julie dat hy ’n pakhuis in Suid-Afrika geopen het.
Thambo wou weet of Temu aan Suid-Afrika se verbruikerswetgewing en regverdige handelspraktyk voldoen ten opsigte van advertensies en bemarkingstrategieë, veral wat die etikettering van produkte as “plaaslik” of “plaaslike pakhuis” betref.
Hy wou weet of die departement ’n ondersoek na die sakepraktyke van Temu en sy derdeparty- logistieke vennote in Suid-Afrika gaan doen om vas te stel of die platform verbruikers mislei. Voorts wou hy weet watter stappe die departement gaan doen om buitelandse e-handelsplatforms te reguleer en te monitor om deursigtigheid, regverdige mededinging en verbruikersbeskerming te verseker.
Monitor
Tau het geantwoord die departement het kennis geneem van berigte dat Temu ’n plaaslike pakhuis geopen het. Die Nasionale Verbruikerskommissie gaan dit en die impak daarvan op die plaaslike kleinhandelsektor monitor.
Temu se bedrywighede in die land moet aan alle relevante wetgewing voldoen, wat die Wet op Verbruikersbeskerming insluit. Temu moet ook, soos enige ander maatskappy wat in Suid-Afrika sake doen, advertensie- en bemarkingstrategieë volg wat aan wetgewing voldoen.
“Die kommissie sal in die 2025-’26-boekjaar ’n gedetailleerde verkennende ondersoek na die e-handelsmark in Suid-Afrika doen om die gebiede te identifiseer wat ondersoek ingevolge die Wet op Verbruikersbeskerming vereis.”
Hoewel geen formele klagte teen Temu ingedien of ontvang is nie, het die kommissie kennis geneem van die bronne van kommer wat in ander jurisdiksies geopper is wat misleidende praktyke en die gehalte en veiligheid van produkte betref. Van dié praktyke sal in die verkennende ondersoek bekyk word om onder meer te bepaal of Suid-Afrikaanse verbruikers geraak word en of dit nodig is om proaktief ’n behoorlike ondersoek te doen.
Die departement ondersoek volgens Tau ook die finalisering van ’n breë raamwerk om uitdagings te oorkom en geleenthede in e-handel te ontsluit, plaaslik en na en van die buiteland.
“Daar is uit ’n regulatoriese perspektief ruimte om alle e-handelsverwante wette, wat die Wet op Verbruikersbeskerming en die Mededingingswet insluit, te moderniseer en met mekaar in ooreenstemming te bring om te verseker die sektor bly mededingend, bevorder die deelname van plaaslike maatskappye, veral klein en mediumgrootte-ondernemings, en verseker regverdige sakepraktyke.
“Die departement is meer spesifiek besig om maatreëls te oorweeg om die Wet op Verbruikersbeskerming te versterk deur middel van regulasies of wysigings daaraan om dit in ooreenstemming met die e-handel-ekostelsel te bring.”












