Tegnuus

Kganyago bekommerd dat kriptoborrels kan vorm

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank.
Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank. ( Foto: Jaco Marais)

“Skadubanke” en kriptoborrels is van die risiko’s wat ’n finansiële krisis kan ontketen, en dit bekommer hom, sê Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank.

Hy het verlede week die Universiteit Stellenbosch se regsfakulteit oor die regulering van die finansiële sektor toegespreek.

Hy sê die risikofaktore wat die potensiaal het om die finansiële stelsel te destabiliseer, het beduidend toegeneem.

Die lys van faktore wat hy genoem het, sluit groter makro-ekonomiese en geopolitieke risiko’s in.

“Die Bank vir Internasionale Verrekening het in sy 2025-jaarverslag die groot staatskuld van baie lande as ’n krisis vir die finansiële stelsel geïdentifiseer. In Suid-Afrika het die fiskale risiko ook opgebou.”

Die geopolitieke beleidsonsekerheid het tot ’n byna ongekende vlak gestyg. “Dit, en die geopolitieke spanning en ekonomiese fragmentasie, ondermyn die internasionale ekonomie se vermoë om in die aangesig van groot ekonomiese en finansiële skokke beslissend op te tree.”

Kriptobates

Kganyago sê die groeikoers van meer as 50% in sommige kriptobates dui daarop dat groot borrels ontwikkel.

Kriptogeld en verwante produkte maak dit ook moeiliker om geldwassery en terreurfinansiering te voorkom omdat dit moeilik is om die eienaars van die geld te identifiseer.

Die innovering met kunsmatige intelligensie hou die belofte van goedkoper, vinniger en toegankliker finansiële dienste in, sê hy, maar die afhanklikheid van komplekse en dikwels ongetoetse stelsels skep nuwe bedryfsgevare.

“ ’n Ineenstorting van een van die kernstelsels kan ’n domino-uitwerking hê en die stabiliteit van die finansiële stelsel bedreig.”

Klimaat

Nog ’n risiko is klimaatsverandering, want meer gereelde en ernstiger weerverskynsels het ’n groot impak op ekonomiese groei.

Kganyago sê die Reserwebank se eie werk toon dat 35% van die lenings wat die banksektor in Suid-Afrika hou, blootgestel is aan sektore wat sensitief is vir die oorgang na ’n laerkoolstofekonomie.

Riglyne oor klimaatsverwante openbaarmaking en risikobestuurspraktyke is aan versekeraars en banke in Suid-Afrika uitgereik, maar volgens Kganyago verhinder beduidende gapings in data en onbetroubare vooruitskattings oor die moontlike impak die vermoë om klimaatsverwante risiko’s te hanteer,

“Wat veral kommerwekkend is, is dat sommige instellings elke jaar ramings maak oor die gereeldheid en erns van uiterste weersomstandighede oor die komende 30 jaar, maar dan kom ons ’n jaar later agter dat die werklike impak erg onderskat is.”

Ander instellings

Die skadubankbedryf hou ook ’n toenemende risiko in.

Dié instellings het nie ’n banklisensie nie, maar bied alternatiewe finansiële dienste en sluit versekeringsmakelaars, waagkapitaalfirmas, valutabeurse, sommige mikroleners, verskansingsfondse en selfs pandjieswinkels in, volgens die Wêreldbank.

“Die instellings speel ’n belangrike rol in die finansiële stelsel, maar is dikwels buite die regulatoriese raamwerk bedrywig. Hul diverse aard, snelle evolusie, inherente swak plekke soos ’n wanparing in likiditeit en die gebruik van skuld en hoe hulle aan die tradisionele bankstelsel gekoppel is, gee finansiële reguleerders groot kopsere.”

– nellie.brand@24.com

CTA