Volgens die jongste ontleding van die gehalte van selfoonnetwerke se sein oor die land heen, is MTN verreweg die wenner.
MyBroadband se jongste verslag oor 2025 se selfoonnetwerke se gehalte en diensverskaffing is vandeesweek uitgereik.

MTN se netwerkgehalte-telling is die hoogste op 9,96 uit 10.
So lyk die algehele prestasie van die ander netwerke:
- Cell C: 8,02 uit 10;
- Vodacom: 7,69;
- Telkom: 6,06; en
- Rain: 4,38.
Waar MTN leiding neem in die algehele prestasie en die LTE-netwerk, het Vodacom die beste 5G-netwerk.
Rain vaar die swakste, met die stadigste aflaaispoed van 22,13 Mb/s en oplaaispoed van 11,1 Mb/s.
In vergelyking het MTN ’n aflaaispoed van 83,94 Mb/s en ’n oplaaispoed van 27,77 MB/s.
Rain het wel die beste latentheid van dataverbindings op 29 millisekondes (ms). Latentheid is die tyd wat dit neem vir data om van die operateur tot die verbruiker te beweeg.
MTN en Telkom is kort op hul hakke met 30 ms, Vodacom op 31 ms en Cell C is die swakste op 36 ms.

MyBroadband meet die gehalte van selfoonnetwerke se sein en internetspoed deur van sy eie personeel gebruik te maak om deur die land te ry en met verskeie selfone metings te neem, asook deur vrywilligers in wydverspreide dele van die land vir aanvullende data in te span.
Die gewigte van die drie metings wat hy doen, is aflaaispoed (60%), oplaaispoed (20%) en die latentheid (20%). – stefani.terblanche@media24.com












