Tegnuus

Netflix het groot interaktiewe planne vir 2026

Netflix is van plan om dit volgende jaar moontlik te maak om tydens regstreekse uitsendings van sekere programme vir sekere mense of paartjies op ’n program te stem.
Netflix is van plan om dit volgende jaar moontlik te maak om tydens regstreekse uitsendings van sekere programme vir sekere mense of paartjies op ’n program te stem. (Foto: Getty Images)

Netflix is van plan om volgende jaar meer regstreekse uitsendings van onder meer talentkompetisies op sy platform aan te bied en is van plan om dit moontlik te maak om deur middel van jou foon te stem terwyl jy die program op ’n ander toestel kyk.

Elizabeth Stone, tegnologiehoof van Netflix, het onlangs in ’n onderhoud met TechCrunch gesê dié stromingsdiens is van plan om Star Search, ’n talentkompetisie wat gehelp het om die loopbane van onder andere Beyoncé en Britney Spears te begin, terug te bring as deel van sy lewende uitsendings.

Elizabeth Stone, tegnologiehoof van Netflix, sê hulle probeer aan maniere dink hoe om inhoud vir kykers meer interaktief en eksklusief te maak.
Elizabeth Stone, tegnologiehoof van Netflix, sê hulle probeer aan maniere dink hoe om inhoud vir kykers meer interaktief en eksklusief te maak. (Foto: Skermgreep)

Kykers gaan dan kan stem vir hul gunstelingsangers, ’n funksie met die doel om lede te laat “voel of hulle deel van die storie is”.

Dit help ook om die inhoud meer interaktief te maak.

Stone sê hoewel daar sprake daarvan is dat die vermaaklikheidsbedryf inhoud makliker maak vir kykers om te verstaan weens kortformaat-video’s op byvoorbeeld TikTok, sê sy die manier hoe hulle inhoud benader, het nie verander nie.

“Maar ja, mense kyk foon in die hand. Dit het nie die manier waarop ons stories vertel en die gehalte daarvan verander nie,” sê sy.

“Wat ons wel verander, is hoe jy betrokke raak op jou foon deur speletjies te speel of om op jou foon te stem terwyl jy TV kyk.”

Netflix het verlede jaar ’n boksgeveg tussen Mike Tyson en Jake Paul regstreeks uitgesaai. Hy is van plan om volgende jaar meer soortgelyke uitsendings te doen.
Netflix het verlede jaar ’n boksgeveg tussen Mike Tyson en Jake Paul regstreeks uitgesaai. Hy is van plan om volgende jaar meer soortgelyke uitsendings te doen. (Foto: Getty Images)

Stone het vroeër vanjaar bekend gemaak dat hulle van plan is om kort video’s op die slimfoon-app beskikbaar te stel.

Die video’s sal die voorskou van ’n reeks of ’n kort uittreksel van ’n fliek wees. Hulle sal dan kan besluit of hulle die reeks of fliek onmiddellik wil kyk, dit op hul lys plaas van dinge wat hulle nog wil kyk of hulle kan dit met vriende deel.

LEES OOK | Netflix gebruik meer KI, kort video’s om kykers te lok

KI-akteurs in Netflix?

Met sekere kunsmatige-intelligensie (KI)-produksieateljees wat KI-akteurs soos Tilly Norwood geskep het, bestaan onsekerheid oor of die vermaaklikheidsbedryf KI-akteurs in die toekoms gaan gebruik.

LEES OOK | Hollywood nie te vinde vir KI-aktrise ‘Tilly Norwood’

Stone sê in antwoord op ’n vraag oor hoe Netflix oor KI-akteurs voel, enigiets wat die menslike deel daarvan verwyder, het nie die siel wat storievertelling het nie.

“Vermaak en storievertelling het in sy kern so ’n sterk menslike element dat dit moeilik is om werklik boeiende stories voor te stel wat nie menslike kreatiwiteit het nie,” sê Stone.

“Tegnologie kan dit verhef, generatiewe KI kan ’n instrument wees om dié visie te laat realiseer, maar ek dink nie ’n storie wat net met generatiewe KI geskep is, gaan die boeiendste vir ons lede wees nie.”

Netflix het volgens Stone sy eie etiese maatreëls oor die gebruik van KI.

– stefani.terblanche@media24.com

CTA