Tegnuus

OpenAI stel ChatGPT Atlas bekend, ding mee met Google Chrome

So lyk OpenAI se nuwe ChatGPT Atlas, ’n webblaaier soos Google Chrome.
So lyk OpenAI se nuwe ChatGPT Atlas, ’n webblaaier soos Google Chrome. (Foto: Getty)

OpenAI het Dinsdag ChatGPT Atlas bekendgestel, ’n webblaaier wat deur kunsmatige intelligensie (KI) aangedryf word en rondom sy gewilde kletsbot gebou is. Dit is bedoel as ’n regstreekse mededinger vir Google Chrome.

Dié bekendstelling is OpenAI se jongste stap om voordeel te trek uit die 800 miljoen weeklikse aktiewe ChatGPT-gebruikers namate dit uitbrei na meer fasette van gebruikers se aanlyn lewe deur data oor verbruikers se bladlese in te samel.

Dit kan ’n breër verskuiwing na KI-gedrewe soektogte versnel, aangesien gebruikers toenemend kletsbotte gebruik wat inligting saamstel pleks daarvan om op soekresultate staat te maak wat op tradisionele sleutelwoorde gegrond is, soos wat Google tradisioneel gedoen het.

Aandele van Alphabet (Google), wat die Chrome-webblaaier besit, het Dinsdagmiddag met 1,8% gedaal.

OpenAI is nie die enigste KI-groep wat al ’n webblaaier bekendgestel het nie. Perplexity het reeds Comet en Brave Browser bekend gestel, en Opera het Neon.

Atlas laat gebruikers toe om ChatGPT in dieselfde venster as die webblad oop te maak om inhoud op te som, produkte te vergelyk of data van enige webwerf te ontleed.

Betalende gebruikers kan ChatGPT se “agentmodus” gebruik om namens hulle met webwerwe te kommunikeer en take van begin tot einde te voltooi, soos om inkopies vir ’n reis te doen.

In ’n demonstrasie van ChatGPT in agentmodus het OpenAI-ontwikkelaars gewys hoe die bot ’n resep aanlyn gaan soek en dan outomaties binne minute al die bestanddele koop.

Die webblaaier is nou wêreldwyd beskikbaar op Apple se macOS. Weergawes vir Windows, iOS en Android sal “binnekort” uitgereik word, luidens OpenAI se webwerf.

Google ontwikkel ook

OpenAI het onder leiding van Sam Altman die tegnologiebedryf omvergewerp met die bekendstelling van ChatGPT laat in 2022. Ná die aanvanklike sukses het die maatskappy strawwe mededinging van Google gekry.

Google het intussen maniere ontwikkel om aan te pas by veranderende soekgedrag sedert ChatGPT se bekendstelling.

Na gelang van die navraag kan elke Google-soekresultaat nou ’n KI-oorsig langs tradisionele skakels vertoon, wat ’n kletsbot-agtige ervaring bied.

Verlede maand het Google sy Gemini-KI-model in Chrome vir Amerikaanse gebruikers geïntegreer, met planne om Gemini ook na die iOS Chrome-app te bring.

Die toenemende mededinging ten spyt, behou Google Chrome sy oorheersing, met ’n markaandeel van 71,9% in die internasionale blaaiermark in September, volgens StatCounter.

Tog sê ontleders dat ’n nuwe webblaaier van OpenAI nuwe mededinging om advertensiegeld kan meebring.

Gil Luria, ’n ontleder by D.A. Davidson, sê net soos Google kan OpenAI advertensies begin verkoop en ’n beduidende deel van die soekadvertensie-aandeel van Google wegneem.

CTA