OLX, die e-handelmarkplek van Naspers se internasionale filiaal Prosus, brei vir die eerste keer na Wes-Europa uit deur die koop van ’n aanlyn motorhandelaar in Frankryk.
OLX gaan La Centrale, ’n groot Franse e-handelaar vir nuwe en tweedehandse motors, vir €1,1 miljard (sowat R22,4 miljard) in kontant koop, het Prosus Vrydag aangekondig.
OLX het reeds ’n snelgroeiende en hoogs winsgewende e-handelmarkplek vir voertuie, eiendom, werkgeleenthede en goedere in hoofsaaklik agt lande in Sentraal- en Oos-Europa. Hy spog met sowat 29 miljoen maandelikse gebruikers.
Die verkryging van La Centrale is OLX se toetrede tot Wes-Europa en Frankryk se aanloklike voertuigmark.
La Centrale word volgens Prosus erken as die mees gespesialiseerde aanlyn platform vir die koop en verkoop van voertuie in Frankryk. Die platform fokus veral op hoëwaarde-voertuie en geniet die vertroue van verbruikers en verkopers.
Christian Gisy, uitvoerende hoof van OLX, sê La Centrale pas natuurlik in by OLX se portefeulje vir geklassifiseerde advertensies.
“Ons strategie is om die groeipotensiaal van vertikale markplekke te ontsluit en sterk streekleiers te bou deur ondernemings met die hulp van ons kunsmatige-intelligensietegnologie te laat groei.
“La Centrale se sterk markposisie en talentvolle span is die perfekte grondslag om ons vertroude innoverende ‘verbruiker-eerste’ tegnologie-oplossings in Frankryk te lewer.”
Leiersposisie in groot Europese motormark
Volgens Fabricio Bloisi, uitvoerende hoof van Prosus, versterk die verkryging van La Centrale die groep se leefstyl e-handel-ekostelsel in Europa. Dit sal Prosus se voetspoor in een van Europa se mees dinamiese tegnologiemarkte uitbrei en nuwe geleenthede ontsluit om te innoveer en te groei.
La Centrale het behoort aan Providence, ’n private-ekwiteitsgroep wat hom sedert 2021 besit het.
La Centrale het sowat 4,5 miljoen maandelikse besoekers aan sy platform met sowat 350 000 voertuie wat geadverteer word. Volgens Prosus sal die verkryging OLX ’n onmiddellike leiersposisie in een van Europa se grootste markte vir tweedehandse motors gee.
Die Franse motormark word as gesond en veerkragtig beskou, met veral stewige groeipotensiaal onder handelaars.
Prosus en Naspers maak op 24 November hul halfjaarresultate bekend.
Prosus se inkomste het in die eerste kwartaal van sy lopende boekjaar, wat op 1 April begin het, met 15% gegroei vergeleke met ’n jaar gelede, het die groep in Augustus bekend gemaak.
Sy aangepaste verdienste voor rente, belasting, depresiasie en afskrywings het met 54% gegroei.
• Netwerk24 is deel van Media24, ’n filiaal van Naspers.









