Die lewe het vir Matthew David Swartz (19) nie die maklikste pad gegee nie, maar dit het hom nie geknak nie. Hy lewe met linker-hemiplegie – ’n neurologiese toestand wat sy linkerkant beïnvloed.
Matthew is egter nie iemand wat in die donkerte sak nie; hy het geleer om aan te pas en die beste uit elke dag te haal.
“Ek kan nie my linkerarm gebruik nie en my mobiliteit is beperk, maar dit keer my nie om te leef nie,” vertel hy vol selfvertroue.
Matthew het verlede jaar aan die Hoërskool Stellenberg gematrikuleer.
Die skool het geen spesiale aanpassings gemaak om hom te akkommodeer nie. “Dit was my keuse, ek wou net soos enige ander leerling hanteer word,” het hy met trots gesê.
Vroeë waarneming lei tot diagnose
Die diagnose is gemaak toe hy nog baie jonk was.
Dit was net nadat Matthew ’n speeldag saam met sy neef gehad het. Sy ma, Carin, het besef iets is fout toe Matthew nie op sy eie tussen twee kussings kon sit nie.
Matthew se tannie, ’n onderwyseres wat werk met leerlinge wat spesiale behoeftes het, het aanbeveel dat hy na ’n fisioterapeut geneem word. Dis toe die diagnose gemaak is.
“My ouers was totaal en al geskok toe hulle die nuus ontvang omdat hulle almal uit gesonde families kom,” sê hy.
Mediese ingryping van kleins af
“My ouers het regtig hul bes probeer om van die vroegste diagnose af hulp vir my te kry sodat dinge makliker vir my kan wees,” het hy beklemtoon.
Matthew het sy eerste operasie ondergaan toe hy 11 maande oud was, en verskeie ander het gevolg. “My ma sê die fisio het my onmiddellik ná daardie eerste operasie gediagnoseer, en haar verseker alles gaan oukei wees,” het hy kalm vertel.
Sy laaste operasie het in sy gr. 7-jaar geskied. “Ek moet steeds ’n spalk dra om mobiliteit te ondersteun, dit help my om beter te beweeg en deur my dae te kom,” vertel hy.

Bewuswording van verskil
Matthew se familie en vriende het hom nooit “anders” behandel nie; dus het hy nooit gevoel asof hy anders is as ander mense nie.
Toe hy sy skoolloopbaan begin, het hy besef dat ander kinders dinge doen wat hy nie kan nie. “Ek het eers besef ek is anders toe ek na spesiale skoolaktiwiteite gegaan het en gesien het ek kon nie alles doen wat die ander kinders doen nie,” sê hy. Dis toe dat Matthew se daaglikse uitdagings meer vir hom duidelik begin word het.
Om homself aan te trek is moeilik omdat hy nie sy linkerhand kan gebruik nie. Veters was ’n groot uitdaging. Trappe klim is problematies, veral met ’n swaar tas. Enige fyn motoriese take is moeilik omdat hy net sy een hand kan gebruik.
“Selfs klein goed vat baie moeite,” sê Matthew.
Aanpassing bring onafhanklikheid
Ten spyte van hoe moeilik dit partykeer was om sy daaglikse aktiwiteite uit te voer, het hy nooit in ’n hoekie gaan sit en jammer voel vir homself nie. Inteendeel, hy het metodes ontwikkel om dinge makliker te maak. Hy gebruik ’n trollietas in plaas van ’n gewone sak en sy selfoon is onmisbaar – hy kan alles daarop stoor en notas maak. By die skool kry hy ekstra tyd vir skryfwerk en toetsaflegging. “Ek gebruik nie werklik spesiale tegnologie of hulpmiddels om my te help nie, maar ek maak dinge werk,” sê hy met trots.
Hoewel Matthew se positiewe houding hom deur sy skoolloopbaan gedra het, was dit nie altyd so maklik nie, maar ten spyte van sy uitdagings was daar nooit ’n tyd dat hy amper moed opgegee het nie.
Hy was nog altyd ’n akademiese uitblinker.
“Ek maak altyd seker dat ek hier en daar ’n A-simbool kry,” het hy met trots vertel.
Akademiese sukses is vir hom die maatstaf van prestasie. Hy werk hard omdat hy suksesvol wil wees.
“Wat my dryf om elke dag my beste te gee, is dat ek suksesvol wil wees met ’n goeie loopbaan.”
Goeie onderwysers maak ’n verskil
Marietjie van der Merwe het ’n besonderse impak op hom gehad.
Sy het altyd seker gemaak hy is oukei en hom gemotiveer. “Sy was soos my ma by die skool,” sê hy.
Hy beskryf homself as ’n introvert en praat nie maklik met vriende oor sy toestand nie.
“Mense staar steeds na my spalk, veral as hulle my vir die eerste keer ontmoet, maar ek het gewoond geraak daaraan.
“Solank my familie en vriende my nie anders behandel nie, is ek heel oukei,” vertel hy.
Oë op universiteit en toekoms
Matthew beplan om sy studies hierdie jaar aan die Universiteit Stellenbosch in BCom (Inligtingstelsels) voort te sit.
Hy het sy verblyf en toeganklike geriewe beplan om so normaal moontlik te leef. “Om ’n Matie te word beteken baie vir my,” sê hy.
Sy boodskap aan jong mense met gestremdhede is om nooit moed op te gee nie en geleenthede ten volle te benut. Hy wil ook ’n wanopvatting regstel.
“Ons is ook mense – hanteer ons soos dit en sluit ons nie uit nie,” beklemtoon hy.











