Kommentaar

Kommentaar: Enorme koste van herbouprojek verg nougesette oorsig

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Oudhoofregter Raymond Zondo, wat aan die stuur van die kommissie van ondersoek na staatskaping was. Foto: Gallo Imagesa
Oudhoofregter Raymond Zondo, wat aan die stuur van die kommissie van ondersoek na staatskaping was. Foto: Gallo Imagesa

Al het die meeste bouprojekte 'n redelik onvoorspelbare koste-element, gaan die besteding aan die herbou van die parlementêre geboue nougesette toesig verg om te verhoed dat dié projek nóg 'n tenderpreneur-put word.

Ná die eerste begrotingsraming van net meer as R2 miljard kan die uiteindelike koste sowat R4,4 miljard beloop. Waar sulke enorme bedrae ter sprake is, duik korruptes en gieriges telkens op.

Wat die projek veral kwesbaar maak, is dat die projekbestuur oorgedra is aan die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika (Obsa), maar dat Xolile George­, die sekretaris van die parlement, die rekenpligtige beampte is. Só 'n verdeling van verantwoordelikhede kan aanspreeklikheid bemoeilik.

Die ouditeur-generaal (OG) het reeds in sy jaarlikse ouditverslag benadruk dat die herbouprojek risiko's inhou wat nougesette bestuur sal verg en ook reeds bedrieglike betalings as kwelpunt onderstreep.

Boonop kla lede van die staande komitee oor die finansiële bestuur van die parlement dat hulle weens 'n druk parlementêre program nie tyd het om nougesette aandag aan dié projek te gee nie.

Dít opper die vraag waarom George, as die rekenpligtige beampte, tot dusver nie versoek het dat die OG deurlopend reële oudits op die projek doen nie, eerder as dat dit net deel van die OG se jaarlikse oudit is. Gegewe die omvang en die koste sou dit bepaald geregverdig wees om dit te doen en wetgewing maak dit moontlik.

Hou in gedagte dat die aansien van die parlement en vertroue wat die publiek in dié toesiginstelling stel een van die hoekstene van die parlement is.

Oor dekades heen het die ANC die demokratiese werking ondermyn en verskeie skandale het die aansien van die parlement verder uitgekalwe. In die Zondo-verslag is die parlement bestempel as aandadig aan staatskaping en die vorige speaker, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, moes bedank weens aanklagte van korrupsie en geldwassery.

Boonop is George se eie salaris onder bedenklike omstandighede verhoog na sowat R5 miljoen per jaar - 90% buite wetlike parameters vir die pos en sowat R1 miljoen meer as dié van die president.

As die projek nog 'n korrupsie-melkkoei word, beteken dit die parlement word dalk fisiek herbou, maar sy demokratiese werking net verder gesloop.

CTA