
Waarom het die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) R28 miljoen aan padrollers bestee om slaggate te herstel, net om dit vyf jaar in ’n stoor te laat roes? Vryburger moet aanneem dat daar iewers ’n plan was, so dalk is dit net ’n uiters klandestiene militêre strategie.
Die weermag het besef ons paaie is ons sterkste verdedigingslinie teen ’n vyandige inval. As ’n tenk oor ons provinsiale paaie probeer ry, sink hy weg in ’n 5 m-slaggat (dis nou net wanneer die SAS Helen Zille nie dié oseaantjies patrolleer nie). Die padrollers moes dus dringend weggesteek word, want as hulle wel die paaie regmaak, is die land skielik wawyd oop vir ’n inval!
’n Generale eufemisme
Angie Motshekga, minister van verdediging, kan gerus gaan leer by een van haar voorgangers. Nosiviwe Mapisa-Nqakula was altyd ’n ou kalant as dit kom by ’n ou eufemismetjie.
Sy was in die ministerspos toe die SAS Queen Modjadji in ’n smêsj betrokke was. Toe het sy gesê: “Die duikboot het onbeplande kontak met die seebodem gehad.”
Miskien was ons R28 miljoen se padrollers dan net deel van ’n onbeplande taktiese oefening in roeskamoefleringstegnieke of hoe, juffrou . . . ’skies . . . min. Angie?
Leerlinge of leërlinge?
Een van Vryburger se kollegas maan hom al om op te hou die spot dryf met die feit dat Motshekga van die onderwysportefeulje na verdediging geskuif is. By onderwys was sy immers aan die stuur van leer, en by verdediging is sy aan die stuur van die leër.
Bykans dieselfde ding – wat kan nou eintlik skeefloop?
Papa Joy en sy gevolg
Toe Gayton McKenzie sy amp as minister van sport aanvaar het, het hy dadelik die geldkraan vir “Superfans” soos Mama Joy toegedraai en gesê die belastingbetaler se geld moenie vermors word om mense oorsee te stuur om net te gaan sit en kyk nie. Nou blyk dit hy het bloot die kompetisie uitgeskakel. Hy wou kennelik self die land se R31 miljoen-“Superfan” by die Wêreldbeker-sokkertoernooi wees.
Die enigste verskil is dalk dat Mama Joy ten minste ’n vlag geswaai het; Gayton het ’n hele bemarkingspan, talle kunstenaars en ’n kaboedel amptenare saamgevat net om seker te maak sy stem word nie hees en sy hande seer geklap nie. Het die man nie skaamte nie?







