Sielsdinge

Stephan Joubert: As woorde kunswerke word

Praat
Praat (Illustrasie: Getty Images)

Spreuke 25:11 sê die regte woorde op die regte tyd is soos ’n kosbare kunswerk. Sulke woorde is soos ’n juwelier wat goue appels in silwermontering gegiet het wat almal bewonder. Spreuke 15:23 sluit hierby aan deur te sê dit bring vir ons groot vreugde wanneer ons die regte woord op die regte tyd gebruik. Dan klink ons nie soos dwase wat gedurig sothede kwytraak sonder om te dink nie (vers 21).

Hoe kry ons dit reg om ons woorde in kunswerke te verander? Wel, ons begin by Spreuke 15:28, wat sê ons dink voordat ons antwoord. Omdat ons die Here se wysheid in alle fasette van ons lewe najaag, weet ons dat ons aanhoudend moet leer om reg te praat. Ons kontrakteer ons woorde nooit oorhaastig aan ons emosies uit nie. Ons sê nie wat ons wil wanneer ons wil nie. Nog minder kontrakteer ons al ons woorde uit aan populêre KI-kletsbotte wat vele se nuwe spreekbuise geword het. Meteens klink massas mense presies soos daardie kletsbotte wat hul nuwe taalverskaffers (en ideeverskaffers!) is.

Die regte woorde spruit voort uit ’n hart wat deur God aangeraak is en wat vreugde aan Hom bring (Spreuke 15:26). Wanneer ons hart vol van God se goedheid is, verander Hy ons woorde in kunswerke wat vreugde bied.

Uit die Woord

Goue appels in silwermonterings,

so is ’n woord uitgespreek

op die gepaste tyd. – Spreuke 25:11

’n Mens ervaar vreugde

met die gepaste antwoord

uit sy mond;

ja, ’n woord op sy tyd –

hoe goed is dit nie! – Spreuke 15:23

Die planne van ’n bose mens

is vir die Here afstootlik,

maar vriendelike woorde is suiwer. – Spreuke 15:26

Die hart van ’n regverdige

oorweeg hoe om te antwoord,

maar die mond van goddeloses

stort booshede uit. – Spreuke 15:28