Sielsdinge

Stephan Joubert: Dit kon anders gewees het . . .

Vibrant orange flower floral soft nature sunbeam blossom in green garden morning time background. Sunbeam shining over orange red blooming park spring season. Sunny Petals blossom beautiful garden
Vibrant orange flower floral soft nature sunbeam blossom in green garden morning time background. Sunbeam shining over orange red blooming park spring season. Sunny Petals blossom beautiful garden (Foto: Getty Images)

Vroegoggend het ek die son dopgehou terwyl ek vir ons koffie gemaak het. Dit was ’n rooi vuurbal wat die wolke in goud getooi het. Spontaan het ’n paar voëls in ons tuin die glorie van die nuwe dag aangekondig. Ons lewenslustige honde het vreugdevol om ons gedans asof hulle ons 10 jaar laas gesien het. Saam het vroulief en ek aan die Here dankie gesê vir sy goedheid.

Ek weet dit kon anders gewees het.

Kort daarna het die werklikheid van Gauteng se verkeer my ingewag. Onverwags het ’n taxi vir my plek gemaak. By ’n besige verkeerslig of twee het die gebruiklike toeters en vingersalute gevolg terwyl mense rooi en groen met mekaar verwar het.

Tussendeur het ’n leraarsvriend gebel en gesê hy moet net aan my sê die Here het nie van hul klein gemeente vergeet nie. Ek kon die vreugde in sy stem hoor toe hy vertel van hul kerkdienste wat groei en van hul samewerking met al die kerke in die dorp.

Toe begin die werkdag . . .

Kort voor slaaptyd het ek teruggedink oor die dag. Toe sê ek weer aan die Here dankie. Dit kon anders gewees het. Maar dit was nie. Dit was goed. Wie weet, miskien is môre anders. Maar dan sal God se genade steeds genoeg wees.

Uit die Woord

Dit is die dag wat die Here gemaak het;

laat ons juig en ons in Hom verheug. – Psalm 118:24