Teen einde Januarie is vroegjaar se nuwejaarsvoornemens reeds vergete. Wat dus van drie nuwe leeflyne vir die res van 2026?
• Ek hou my neus vanjaar uit ander se sake. Ek gaan nie ’n busybody wees wat gedurig wil weet wat in ander se lewe aangaan, net om dit dan agter hul rug uit te lap nie. Soos wat die Bybel vra, is ek altyd daar vir mense, maar ek respekteer hul grense en privaatheid.
• Ek is vanjaar fyner ingestel op ander se nood. Ek hoor soms dat ek eers ’n mening kan waag as ek ’n myl in iemand ander se skoene geloop het. Wel, ek kan nie. Maar ek kan wel in my eie skoene langs hulle loop. Op my unieke maniere kan ek hul laste help dra en hul nood konkreet verlig, soos wat Galasiërs 6 my leer.
• Ek is vanjaar minder foutvinderig en meer dankvinderig. Die woord foutvinderig werk nie meer vir my nie. Ek verkies in 2026 my eie woord: dankvinderig. Ek wil meermale al die goeie dinge raaksien wat mense doen. Ek wil meermale sien hoe die Here sy kinders sonder ’n bohaai gebruik om klein dingetjies vir ander te doen en daarvoor vir Hom dankie sê. Ek durf die res van 2026 dankvinderig aan.
Uit die Woord
Want ons het gehoor dat sommige van julle onordelik optree, en nie wil werk nie, maar oral inmeng. Ons raai sulke mense aan, ja, deur die Here Jesus Christus spoor ons hulle aan, om hulle dagtaak kalm te verrig, en so hulle eie brood te verdien. – 2 Thessalonisense 3:11-12
Dra mekaar se laste, en vervul so die wet van Christus. – Galasiërs 6:3
Gaan sy poorte binne met lofprysing,
sy voorhowe met ’n loflied;
loof Hom, prys sy Naam.
Want die Here is goed,
vir ewig duur sy troue liefde,
van geslag tot geslag sy trou. – Psalm 100:4-5












