Pulp Fiction is een van daardie voorhamerhou-flieks van die 1990’s. Jules Winnfield (gespeel deur Samuel L. Jackson), een van die karakters, is ’n hitman wat wraak neem teen bose mense.
Hy verrinneweer Esegiël 25:17 in dié proses om sy optrede te regverdig. Met name buig hy God se oordeelswoorde oor die Filistyne behoorlik om as hy sê: “The path of the righteous man is beset on all sides by the inequities of the selfish and the tyranny of evil men... And I will execute great vengeance and furious anger upon those who attempt to poison and destroy my brothers.”
Aan die einde van die fliek besef Winnfield egter sy lewe is deur ’n bonatuurlike ingrype gespaar. Dan word hy “the shepherd who guides the weak, rather than the evil tyrant”.
Tereg leer die Bybel dat wraak ons nie toekom nie. Dit is God se afdeling, maar selfs Hy stel dit tot die allerlaatste uit.
God is nie wraakgerig nie. Liefde en genade is sy hartklop. Dit bewys Jesus op ’n beslissende manier by die kruis waar Hy al die vuur en oordeel op Homself trek. Hier wys Hy dat God uitblink in genade. Hy spreek elkeen vry wat glo.
Wraak is nóg die hemel se voorkeurroete nóg ons s’n hier in 2026. Volg eerder die God van vryspraak en genade.
Uit die Woord
Geliefdes, moet julle nie wreek nie, maar laat ruimte vir die oordeel. Daar staan immers geskryf: “Aan My kom die wraak toe; Ek sal vergeld,” sê die Here.
Maar: “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink. Deur dit te doen, stapel jy vurige kole op sy hoof.”
Moenie dat die kwaad jou oorwin nie, maar oorwin die kwaad met die goeie. – Romeine 12:19-21












