Jeremia 29:11 word allerweë beskou as die mees aangehaalde teks in die Bybel naas Johannes 3:16. Dit sê God weet wat Hy vir sy volk beplan: voorspoed en nie teenspoed nie. En dat Hy vir hulle ’n toekoms wil gee.
Helaas word Jeremia 29:11 se betekenis dikwels oorspan ter ondersteuning van sommige se idees van the good life. Of van ’n suksesvolle loopbaan wat God blykbaar aan hulle verskuldig is.
Jeremia 29:11 maak deel uit van Jeremia se oorspronklike brief aan al die bannelinge in Babilon. Hier hoor ons dat daardie goeie dinge wat God vir hulle almal in gedagte het eers oor 70 jaar sal waar word as hulle na Jerusalem (vers 10) terugkeer. Tot dan moet hulle goeie burgers in hul nuwe land wees. Hulle moet vir Babel bid. Hulle moet bome plant, tuine aanlê en ook kinders hê. Tussendeur moet hulle die Here in opregtheid dien (vers 5-7).
Steeds nooi Jeremia 29 ons almal binne God se wil in. Hier in ons eie tyd moet ons ook op elke plek waar ons leef sy wil doen. Steeds moet ons goeie landburgers wees. Tussendeur moet ons ook feesvier oor al die goeie dinge wat God reeds vir ons bewerkstellig het. Ons leef tog nou as begenadigdes in die lig van Jesus se kruis. Ook ken ons die nabyheid van sy Gees in ons lewe.
Ons almal weet ook God se ewige toekoms lê voor.
Uit die Woord
Indien ons hoop slegs vir hierdie lewe op Christus gevestig is, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense. – 1 Korinthiërs 15:19
Geloof, egter, is sekerheid van die dinge wat gehoop word, ’n bewys van die dinge wat nie gesien word nie. – Hebreërs 11:1












