Ons luister te min na ons eie liggaam. Dit hou telling van al die spanning wat ons met ons saamdra. Op verskillende maniere waarsku ons lyf ons wanneer ons intern onder druk verkeer.
Ek vermoed dis hoekom William James lank gelede gesê het: “A purely disembodied human emotion is a non-entity.”
Ten einde ons liggaam en siel bymekaar te hou, moet ons gereelde blaaskanse in ons lewe inbou. ’n Blaaskans is ’n ruspouse. ’n Blaaskans help ons om weer asem te skep. Dit help ons om tot verhaal te kom. Tereg word dit in Engels ’n breather genoem.
Ons oorlaaide skedules en eindelose verpligtinge is sieldodend, letterlik! Daarom is gereelde, daaglikse blaaskanse nodig. Dit verskaf die nodige suurstof vir ons om reg te leef.
Goeie blaaskanse is daardie daaglikse verposings waar ons vir ’n paar minute tot stilstand kom. Dit is wanneer ons daardie warboel van gedagtes en emosies wat gedurig oor ons spoel vir ’n paar oomblikke by die Here se voete neersit. Dit is om in sy nabyheid diep asem te haal en om net stil te raak. Dan wen ’n nuwe telbord binne-in ons waarvan ons liggaam spoedig kennis neem.
Uit die Woord
In groen weivelde laat Hy my rus;
na water waar daar rusplek is, lei Hy my.
Hy gee my nuwe lewenskrag. – Psalm 23:2-3












