Sommige mense sien die lewe as ’n eksperiment. Ander sien dit as ’n ontdekkingstog.
Daar is ’n groot verskil tussen dié benaderings. Eksperimente moet sekere teorieë en idees as waar of vals bewys. Om die lewe soos ’n eksperiment te benader, maak dat jy onbetrokke en objektief na alles en almal kyk, wat geloof insluit. Alles word getoets en geweeg. Uiteindelik word slegs dit wat jou toetse deurstaan, as die waarheid aanvaar.
’n Ontdekkingstog of eksplorasie, daarenteen, is om die lewe as ’n reistog te beskou. Dit maak dat jy bereid is om nuwe dinge te ontdek, te groei, seer te kry en om nuwe dinge te leer. Ontdekkingsreisigers sien die lewe nooit as ’n laboratorium nie, maar as ’n landskap vol onontginde skatte en ervarings.
Geloof leef eers mooi in ons harte wanneer ons van eksperimente na ontdekkingstogte oorskakel. Dan leef ons nie langer in klinies kerklike laboratoriums waar van vroeg tot laat gestry word oor reg en verkeerd nie. Of waar ons almal moet regsien wat anders as ons dink en glo nie. Dan leef ons op nuwe roetes waar ons op verrassende maniere op wie weet hoeveel plekke in God se goedheid vasloop.
Geloof is om te weet Jesus is ons lewenspad. Dis om dapper agter Hom aan te stap waar Hy afdraai en hurk langs siekes, stukkendes en hooploses. Dis om lewenslank ’n ontdekker van God se nabyheid te wees.
Uit die Woord
God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. – Handelinge 17:27-28












