Sekere vrae karring lewenslank aan mense. Ek praat van vrae soos: Wat is waarheid? Wat is die doel van die lewe? Hoekom gebeur slegte ding met goeie mense?
Baie mense sê daar’s nie antwoorde daarop nie. Wag, dis nie heeltemal waar nie. Dit hang af van wie dié vrae vra en met watter doel. Sommige vraagstellers vra sulke vrae sonder om hulself ooit tot antwoorde te verbind. Hulle wys maar net die denkfoute uit van ander wat antwoorde daarop probeer gee. Maar dis al. Hulle dobber rond sonder om ooit anker te gooi.
Die feit dat lewensbelangrike vrae nie maklike antwoorde het nie, beteken nie ons moet ophou om daaroor na te dink nie. Ons moet! Dis juis die sleutel. Ons moet goed nadink vanuit ons waardestelsel. Nee, ons geloof in die Here maak nie dat ons ons kop in die sand wegsteek as moeilike vrae opduik nie.
Ons leer by Jesus. Wanneer Pilatus Hom konfronteer met die vraag: “Wat is waarheid?”, antwoord Jesus dat Hy self ’n nuwe koninkryk hier op aarde laat aanbreek het, een wat nie deur wapengeweld in stand gehou word nie. Hy stel dit dus duidelik dat waarheid vir sy navolgers persoonlik en relasioneel is.
Ons vind waarheid in Jesus. Ons vind dit in sy opdrag om God en ander lief te hê. Ons leef dit agterna deur vredemakers te wees. Só word hierdie vraag na waarheid op beliggaamde maniere beantwoord en beleef.
Uit die Woord
Jesus antwoord hom: “U sê dat Ek ’n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek na die wêreld gekom: om oor die waarheid te getuig. Elkeen wie se bestaan in die waarheid gegrond is, luister na my stem.” – Johannes 18:37












