Uittreksels

50 Jaar gelede in Die Burger | 28 Augustus 1975

Vier visserskuite sink, 50 vermis: Minstens vier skuite met Portugese vlugtelinge het vergaan en sowat 50 mense het waarskynlik verdrink, het gister aan die lig gekom.

Yolande wis van alles niks: Yolande Breytenbach­ het vir die eerste keer van haar man se aanhouding gehoor toe Die Burger se korrespondent in Parys haar gisteroggend om tienuur die nuus oor die telefoon meedeel.

Kern-navorser se vrou gevang: Die jong eggenote van ’n kern-navorser van die Atoomkragraad word in Pretoria deur die veiligheidspolisie aangehou, na bewering in verband met die geheime besoek wat die skrywer-digter Breyten Breytenbach aan Suid-Afrika gebring het. Die vrou is swanger. Sy is mev. Clara Röhm, eggenote van dr. H.F. Röhm, wat tot vroeër vanjaar senior lektor aan die Universiteit van Pretoria was en nou navorsing doen vir die Atoomkragraad.

Meisie teen berg aangeval: ’n Jong Wes-Duitse vroulike student wat op ’n besoek van drie maande in Kaapstad is, is eergisteraand teen die hange van Vlaeberg aangeval en sek­sueel aangerand. Haar aanvaller, ’n bruin man, het haar gewurg, teen die grond geslinger en toe verkrag . . . Sy wou die uitsig oor die stad bewonder en het die man gevra om haar die voetpad na die bopunt van Vlaeberg te wys.

Dokter in hof oor tablette: ’n Nie-blanke dokter van Worcester, dr. Rushdi Conrad (37), het gister in die landdroshof op die dorp verskyn op aanklag van onwettige handel in verdowings- middeIs . . . nadat hy ondervra is in verband met die verkoop van 16 606 matakaloontablette. (Die tablette is in Suid-Afrika van die mark gehaal.)

Selassie in slaap oorlede: Oud-keiser Haile Selassie van Ethiopië is eergisteraand op 83-jarige ouderdom in sy slaap oorlede, het Radio Ethiopië­ gister aangekondig.

VLV vra verbod op ontgroening: ’n Voorstel dat die regering versoek word om ontgroening aan universiteite en kolleges te verbied en dat die verbod streng toegepas word, is gister in Upington met ’n oorweldigende meerderheid op die jaarlikse kongres van die Kaaplandse Vroue-Landbouvereniging aangeneem.