Uittreksels

50 Jaar gelede in Die Burger | 31 Maart 1976

Pik Botha slaan Russe in V.V.O.: Dit is nie Suid-Afrika nie, maar Rusland wat moet verantwoording doen vir sy brutale aggressie in Angola. Anders as Rusland en Kuba het Suid-Afrika in Angola ’n beperkte rol gespeel. Só het mnr. R. F. Botha, Suid-Afrika se ambassadeur by die V.V.O., in die Veiligheidsraad gesê in die spesiale debat oor Suid-Afrika se beweerde aggressie in Angola.

Kragman dalk geskors oor foto’s: Roy Hillighen, die kragman wat naakfoto’s van Anneline Kriel aan ’n Sondagkoerant verkoop het, verskyn vanaand voor ’n tugkomitee van die Suid-Afrikaanse Liggaamsbou-Unie op ’n klag van wangedrag . . . Daar is ’n sterk moontlikheid dat hy lewenslank geskors kan word.

Callaghan lyk na seker keuse: Mnr. James Callaghan, Britse minister van buitelandse sake, sal byna seker Maandag tot nuwe Britse premier verkies word. Die uitslag van die tweede ronde van die regerende Arbeidersparty se leierstryd het gister getoon dat mnr. Callaghan nie sommer gestuit kan word nie.

Suidwes het uit Angola geleer: Die gebeure in Angola het baie bygedra om die verteenwoordigers by die staatkundige beraad in Suidwes tot realisme te dwing en was vir almal die beste voorbeeld van hoe ’n mens nie jou selfbeskikkingsreg moet uitoefen nie, het mnr. D. F. Mudge, L.U.K., gisteraand op Stellenbosch gesê.

Gratis dokters vir diensplig-families?: Dokters is versoek om die afhanklikes van dienspligtiges kosteloos te behandel solank die mans weg is om militêre diens te doen, het dr. Jonathan Gluckman, voorsitter van die Mediese Vereniging van Suid-Afrika, gister gesê. “Ons kan hulle nie beveel om dit te doen nie, maar ons het hulle versoek,” het dr. Gluckman gesê.

Boeing tref hiëna: ’n Boeing 747 van die Britse lugdiens het in Nairobi, Kenia, ’n hiëna getref terwyl dit opgestyg het. Die vliegtuig moes na die lughawe terugkeer vir herstelwerk.

Nicholson wen uiteindelik: Jack Nicholson (39) het uiteindelik ’n Oscar ontvang (ná vier vorige benoemings) vir sy rol as die rebelse pasiënt in ’n gestig vir sielsiekes in die rolprent One Flew Over the Cuckoo’s Nest.

CTA