In die vyfde en laaste deel van Jip se Matriek 2026-podsendingreeks, aangebied deur Malani Venter, gesels leerkenner dr. Cas Olivier oor die laaste belangrike kopskuif wat matrikulante voor die eindeksamen kan maak: om toenemend verantwoordelikheid vir hul eie aandag, denke en leerwerk te neem.
Die selfoon lê langs jou. Jy het besluit jy gaan nou leer, maar ’n boodskap kom deur. Jy kyk gou. Dan nóg een. Voor jy jou kom kry, het jou aandag lankal van jou leerwerk af weggedwaal.
Die maklike oplossing? Vat die foon weg.
Maar volgens Olivier los dit nie die groter probleem op nie.
“Moenie net die selfoon bestuur nie. Ontwikkel die kind wat die selfoon moet bestuur.”






