Die spelers wat Sondag vir die Springbokke speelkans teen die Wallabies kry, moet wys daar kan op hulle staatgemaak word om later vanjaar die Nasieskampioenskap-reeks te gaan wen.
So het Rassie Erasmus, die Springbok-hoofafrigter, oor dié naweek se kragmeting met Australië in Perth gesê.
Erasmus het 13 veranderinge aan sy beginspan vir dié stryd teen die Wallabies aangebring.
Ethan Hooker (linkervleuel) en Eben Etzebeth (slot) is die enigste spelers wat hul plek in die Bokke se beginspan behou het ná die oorwinning van 43-28 oor die All Blacks in die vierde en beslissende toets van die Greatest Rivalry-reeks in Baltimore, Amerika.
“Wat ons probeer doen, is om aan ons planne vir volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi te skaaf, terwyl ons ook wil seker maak ons behou ons wenmomentum,” het Erasmus die grootskeepse veranderinge aan sy span verduidelik.
“Soms is dit só dat ’n mens die dobbelsteen moet rol. In die reeks teen Nieu-Seeland het ons dit gedoen toe ons besluit het om vir vier agtereenvolgende wedstryde basies dieselfde span te kies. Ons gaan egter nie weet wat die spelers wat nie teen die All Blacks gespeel het nie, in die Nasieskampioenskap of volgende jaar se WB-toernooi vir ons kan beteken as hulle nie speelkans kry nie.







