Inligting

Netwerk24 lyk van 2 Oktober af anders; opwindende nuwighede

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Netwerk24 spog van môre af met 'n splinternuwe voorkoms. Gebruikers wat Saterdag op hul selfoon, tablet of rekenaar op die webwerf aanmeld, sal dadelik die verskil sien. App-gebruikers moet die nuwe Netwerk24-app in die app-winkels op hul slimfone aflaai om al die verbeterings te geniet.

"Die groot skuif begin vanaand om 22:00 wanneer die ontwikkelingspan en 'n kerngroep redaksielede deurnag agter die skerms alles begin aanskakel," vertel Henriëtte Loubser, hoofredakteur van Netwerk24.

"Ons glo die verstellings gaan gebruikers help om vinnig te kan kies en keur uit Netwerk24 se wye aanbod."

Maak sommer vandag al seker dat jy weet wat jou wagwoord is, want jy gaan dit môre nodig hê om op die nuwe platform aan te meld.

Benewens 'n nuwe voorkoms, sluit nog verbeterings in:

• Tegnologie is bygevoeg sodat gebruikers die weer en verkeer in hul spesifieke omgewing kan dophou, die jongste inligting oor die geldmarkte kan sien en tydens groot sportgebeure outomatiese uitslae en kommentaar kry.

• Netwerk24 se meer as 80 000 intekenare kan voortaan na berigte luister terwyl hulle met iets anders besig is, pleks daarvan om dit net te lees. Die bekende radio- en TV-aanbieder Sue Pyler se stem is as basis gebruik om met masjienleer 'n elektroniese stem te skep wat teks in spraak omskakel.

"Dis 'n eerste vir Afrikaans en ons is self verbaas oor hoe natuurlik die elektroniese stem klink. Die warmte in Sue se stem het behoue gebly," sê Loubser.

"Aanvanklik gaan daar nog hier en daar verkeerde uitsprake wees. Dit sorg soms vir pret terwyl ons nou besig is met die toetslopies. Onthou, die masjien is nog besig om Afrikaans (en Suid-Afrikaans) te leer praat. Maar hoe meer berigte dit verwerk, hoe slimmer gaan dit raak."

• Intekenare wat die app gebruik, sal op iOS en Android hul gunsteling-koerante en tydskrifte as e-publikasies kan aflaai om later sonder 'n internetverbinding te lees. Die e-publikasies lyk nes die tydskrifte en koerante se papierweergawes.

• Daar is 'n verbeterde kommentaarplatform vir lesers wat graag hul mening onderaan artikels gee.

• Rapport, Die Burger, Beeld en Volksblad het spoggerige nuwe landingsblaaie met onderafdelings vir 'n meer geordende leeservaring.

• Gebruikers sal makliker by gemeenskapskoerante soos Tygerburger, Paarl Post, BloemNuus, NoordkaapBulletin, PE Express en 'n verskeidenheid ander Media24-titels kan uitkom vir gelokaliseerde nuus.

• Netwerk24 het 'n ryke verskeidenheid kyk- en luisterinhoud, insluitende luisterboeke, blitssepies, webinare en podsendings. Onlangs het Blitsnuus bygekom. Dit is 'n videobulletin van vyf minute waarmee jy van 18:00 saans vinnig op die hoogte van die dag se gebeure kan kom. Op die nuwe webwerf en app is hierdie inhoud saamgegroepeer sodat intekenare dit maklik kan vind.

• Met 'n nuttige boekmerk-funksie op die web en app kan jy berigte merk om later (aanlyn) te lees.

• As jy op die selfoonweb of app lees, kry jy voortaan 'n stroom berigte byna sonder einde. Jy kan dus bly afrol tot so ver as wat jy wil en hoef nie bekommerd te wees dat jy iets misgeloop het nie.

* LEES OOK:Brief van die redakteur

Benewens brekende nuus heeldag lank deur Netwerk24 se landwye verslagspan, het intekenare toegang tot die inhoud (in webformaat en as e-publikasies) van Huisgenoot, SARIE, Kuier, Tuis, Weg!, Weg! Ry & Sleep, Baba & Kleuter en Finweek. Onder e-publikasies is TVPlus en sedert onlangs die ATKV se Taalgenoot ook deel van die bondel.

Landbouweekblad, met sy bedryfspesifieke inhoud, skuif egter na 'n eie digitale tuiste en app waarop gebruikers afsonderlik kan inteken. Kry meer besonderhede op landbou.com, ook hoe jy dit maklik by jou Netwerk24-intekening kan voeg.