Die pelgrims wat tans aan Netwerk24 se Portugese Camino deelneem, is nou omtrent halfpad tussen Porto, Portugal, en die Spaanse stad Santiago de Compostela, waar die pelgrimstog oor sowat 280 km oor ’n week eindig. Sarel van der Walt, ’n redaksielid van Netwerk24 wat saam stap, doen verslag uit Oia langs die Spaanse kus.
Soos natgereënde hoenders het ons Maandag se skof oor byna 20 km van A Guarda tot by Oia voltooi.
Vandat ons A Guarda verlaat het, totdat ons die hotel in Oia gehaal het, het dit gereën.
Ondanks reënbaadjies en selfs ’n poncho bo-oor het omtrent alles aan jou lyf nat geword.
By tye was daar ook ’n geniepsige koue wind wat van die see se kant af gewaai het.
Maar pelgrims aanvaar mos die toestande en ons het deurgedruk.
Dit was weer eens ’n baie mooi roete – al langs die see af.






