Boeke

Alles het begin met ’n duin ...

Alles het begin met ’n duin ...

In Duinhuis (Human & Rousseau, R400) vertel Isabella Niehaus van haar reis met kos en deel sy van die geregte wat sy vir die gaste aan haar Langtafels voorsit. Moenie 'n konvensionele kookboek verwag nie. In dié boek deel Bella (soos sy alom bekend staan) staaltjies uit haar lewe met uitsoek-resepte so tussendeur, sonder afdelings vir voorgereg, hoofgereg en nagereg. Die boek is by uitstek 'n kyk-boek, waarin die atmosferiese foto's jou op 'n reis in Bella se leefwêreld neem. Haar onthou maak jou eie onthou wakker. Soos sy terugstap na die plaas in die Vrystaat waar sy grootgeword het, die tye wat sy as kind saam met haar grootouers deurgebring het, en natuurlik die gesinsvakansies aan die Suidkus, skemer 'n prentjie deur van iemand wie se sintuie deur die geure, kleure en teksture van kos aangewakker is.

Isabella Niehaus en haar hond, Sophie. FOTO: verskaf
Isabella Niehaus en haar hond, Sophie. Isabella Niehaus en haar hond, Sophie. FOTO: verskaf (verskaf)

Hoewel sy eers heelwat later in haar lewe behoorlik begin kos maak het, was die geurfondamente reeds vroeg gelê, vertel Bella waar ons sit en gesels by die bekendstelling van haar boek in Pretoria. Nou kom haar inspirasie vir geregte van smake wat sy onthou, bestemmings wat sy besoek het, mense wat oor haar pad kom, die stapels kookboeke en "mevrou Google en 'n hele rits bloggers wat [sy] volg". Sy skryf kosmaak is vir haar die lekkerte om te deel "en vir oomblikke magic en joy in ander se lewens te bring". Vir die bekendstelling het Bella spesiaal 'n klompie eetgoed uit haar boek berei, sodat almal kon proe waaroor haar passie gaan. Nadat ek aan haar kos gesmul het, hoop ek sy sal nog baie jare haar "smake, geure, kombinasies, herinneringe [en] stories" deel.

Die boek het nie sonder pyn gekom nie, want jy het al jou kopie verloor en moes dit oorskryf.

Ek dink as 'n mens iets die eerste keer skryf, word dit met 'n sekere passie gedoen. Dit het my 'n goeie jaar geneem om alles te skryf en bymekaar te kry. Die datum vir voltooiing was 28 Februarie. Op 1 Maart wou ek "send" druk. Drie-uur daardie oggend staan daar 'n mens in my deur wat alles gevat het, foon, rekenaar, Kindle, hard drive. My seun, Taro, het gaan rondry en geld aangebied om die drives te probeer terugkry, maar kon niks kry nie. Alles was weg. Toe moes ek eenvoudig oorbegin. Annake Müller, my redakteur, was ongelooflik. Sy het my 'n jaar tyd gegee om die boek oor te doen. So, die boek het anders uitgedraai as wat hy aanvanklik was. Die resepte is dieselfde, maar die stories anders. Daar's 'n bietjie meer thought daaragter. Dis met minder rou emosie geskryf as voorheen. Die hele aanslag het verander. Ja, ek hou nou van hierdie boek.

Waar het die idee vir 'n boek begin?

As ek eerlik moet wees, was dit 'n uitvloeisel van die Langtafel. Die Langtafel is nogal 'n ervaring. Daar sit 30 tot 40 random mense aan tafel en hulle word geforseer om met mekaar te praat. Almal het gevra waarom ek nie 'n boek skryf oor die stories en oor hoe mense mekaar om die tafel ontmoet nie. En natuurlik die kos wat daarmee saamgaan. Ek wou ook nog altyd 'n boek skryf, nie soseer 'n kookboek nie, eerder 'n storieboek. En dis ook hoekom die boek 'n storie het met resepte, eerder as wat dit 'n gekategoriseerde resepteboek is.

Die sjarme van die boek lê daarin dat dit meer oor jou as mens vertel, waar jy vandaan kom, en jou kinderjare op 'n plaas wat 'n teringsanatorium was.

Ek het 'n kleurvolle lewe gehad, 'n lewe met ouer ouers. Ek is aangeneem deur my ouers toe ek 10 dae oud was; hulle was toe 40. Toe ek 24 was, het ek my biologiese ma gaan soek en haar gevind. Iets wat ek seker nooit in my lewe moes gedoen het nie, maar sy was 'n fantastiese kok. Sy het groen vingers gehad. Ek het ook groen vingers. Ek is miskien nie so fantastiese kok soos sy was nie. My aanneemouers het my toegegooi met liefde, maar ek het altyd gevoel ek moet myself bewys. Nou die dag toe ek met die boek in my hand sit, het ek gewonder waar ek die balls vandaan gekry het om dit te doen. Ek is 'n kok, maar ek is nie 'n sjef of 'n foodie nie. So ek kan eintlik doen net wat ek wil. Ek embarrass altyd vir Taro, maar ek wou altyd vir my kind iets gelos het sodat hy regtig trots op sy ma kan wees. Dié boek is my erfenis aan hom.

Jy skryf in die boek dat jy nie van kleintyd af in kos belanggestel het nie en eers later in jou lewe 'n liefde daarvoor ontwikkel het. Wat het daardie passie wakker gemaak?

Dit kom terug na die duinhuis wat ek gebou het. Die huis het hom oombliklik daartoe geleen om 'n kuierhuis te wees, want alles maak oop na buite. Aanvanklik toe ek in Langebaan begin bly het, het mense gesê hulle wil by my kom eet en my daarvoor betaal en dis hoe dit begin het. Aan die begin het ek baie meer simplistiese kos gemaak. Ek het gegroei. As ek dink hoe my repertoire en koskennis in die afgelope ses jaar uitgebrei het ... Ek dink waar my liefde vir kos begin het, was toe ek moderedakteur by SARIE was en ek so dikwels oorsee gereis het. Ek het Prêt-à-Porter toe gegaan in Parys. Die mense van Yves Saint Laurent of Lancôme of Givenchy het my na fabelagtige restaurante geneem. Hulle bederf jou. Ek het by daardie mense geleer om smake te waardeer en geniet. Dan het ek 'n vriendin gehad, Mignon Tierie Beukes, ook nou al oorlede; sy was die redakteur van Nouveauin Nederland. Ek het vyf jaar lank een maal 'n jaar vir drie tot vier weke by haar gaan bly om op Nouveau te gaan werk. Sy was vir my die ultimate mens. Ek onthou die eerste keer dat sy my na 'n soesji-restaurant gevat en ek vir haar gesê het ek kan nie rou vis eet nie. Sy het my aangeraai om net my oë toe te maak en te sluk, want, het sy gevra: "How can you be such a sophisticated person and do such beautiful things and not eat certain tastes?" Sy het omtrent nooit kos gemaak by haar huis in Keizersgracht nie. Sy het my altyd na plekkies toe gevat en my ongelooflik blootgestel aan verskillende smake. Terug in Suid-Afrika wou ek altyd iets wat ek saam met haar geëet het, maak. Ek het nogal die talent om smake te onthou en geregte te herskep.

Ek ken jou as 'n moderedakteur en visuele mens. Die boek is ook geweldig visueel. Dink jy die feit dat jy so visueel is, het 'n invloed op hoe jy kook?

Definitief. Ek is visueel, maar ek is ook tactile.Ek sal byvoorbeeld 'n slaai maak voor die mense wat aan die tafel sit en die slaai met my hande meng. Saggies. In die boek staan daar iewers hoe my ma vir Maria sê om saggies te werk met die kos. Ek het 'n ding met sag werk met kos. Ek raak woedend as ek kookklasse gee en mense werk hard met kos. Jy werk met respek. Jy breek slaai saggies uitmekaar uit. Dit was nou-nou nog 'n lewende ding. Ek wil nie krummel- en druppelborde doen nie. Ek het nie nodig om spookasem en vreemde goed te doen nie. As mens so baie mense het, dan moet jy die kos uitkry. Ná die tyd dan dink ek ek kon 'n mooier stapeltjie gemaak het. Nog steeds moet kos visueel mooi wees. Ek hou daarvan om aan die kos te vat. Party oggende as ek uit my bed klim en ek dink ek moet vir 40 mense kook, wil ek sommer net in die bed terugklim. Maar dan maak ek 'n bottel komyn oop en komyn is soos 'n dwelm vir my. Dan kan ek gaan koffie maak en ewe skielik is alles net beter.

Kook is harde werk. Jy skryf hoe jy drie-uur opstaan om quiches vir die mark te bak.

Inderdaad. Ek eet geen bevrore kosse uit 'n vrieskas nie. As ek iets vries, dan weet jy my honde of iemand anders gaan dit eet. Ek sal leftovers eet as dit koue braaivleis is. Alles wat die mense by my eet, van die mayonnaise op die vis tot die slaaisous, is vars. Ek het 'n ding oor vars goed. Brood word nie die dag voor die tyd gebak nie, ek bak dit daardie oggend. Die meeste kere staan ek drie-uur om alles gedoen te kry.

Gepraat van brood, in die boek sê jy jy is nie 'n natuurlike bakker nie. Jy moes leer om dit te doen. Het jy nou al 'n liefde ontwikkel vir bak?

Absoluut. Ek het kursusse geloop om suurdeegbrood te leer bak. Dan kry ek suurdeegplantjies present, en dan gaan almal dood. Ek het nou moeitelose resepte gevind waarmee mens lekker platbrode kan maak. Omdat die deeg olyfolie inhet, word dit so lekker elasties en het ek 'n liefde ontwikkel vir knie. In my boek is die allermaklikste brood om te maak van daardie Amerikaner, Jim Layhey van die Sullivan Street Bakery. Dié brood hoef nie geknie te word nie. Daar is 'n saadbroodjieresep wat ek by iemand anders gekry het. Dis wonderlik, want almal kan dit eet, of jy veganisties, glutenintolerant of wat ook al is.

Versamel jy mense om jou soos wat jy jou resepte in die boek van hulle versamel het?

[Lag] Absoluut. Ek vra nogal mense vir resepte en daar is resepte van baie spesiale mense in die boek. Ek onthou toe Reuben Riffel sy verjaardag by my kom hou het en ek vir hom moes kook. Ek het tot nuwe vadoeke gekoop, hy het hom morsdood gelag. My senuwees was gedaan ... En juis met die mosselbobotie (my signature dish) sê ek hy moet by my kom sit. Hy vra toe vir my wat is alles daarin. Ek hardloop deur die bestanddele. Hy vra watter bestanddeel ek uitlos, want hy kon proe daar was nog iets. Ek het gesukkel om vir hom te sê dis appelkooskonfyt. Ek het so skaam gekry. Hy is 'n hero in my lewe. En iemand soos Piet Marais, wat by my kom kook het. Ons het alles op die oop vuur gemaak. Dit was so, so lekker. Piet het die vorige dag mark toe gegaan om alles te koop. Mynhardt Joubert het al 'n paar keer saam met my gekook. Dis vir my 'n voorreg om saam met hulle te kook. Dan is daar natuurlik Michélle van Breda, formidabele redakteur van SARIE, wat nie eens kan water kook nie! Ek het vir haar 'n viskoekieresep ontwikkel. Dis lekker om almal in te trek en hulle deel van my wêreld te maak.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM