Fiksie
Confessions
Catherine Airey
VIKING, R355
"Two days after she disappeared, most of my mother's body washed up in Flushing Creek. The morgue had comfy armchairs in the lobby, and I can remember being annoyed that it didn't take longer for my father to identify the body. I was reading Little Women and would have quite happily sat there all day. I was eight."
Wanneer dít die openingsparagraaf van 'n boek is, kan jy nie anders as om vraatsig verder te lees nie. Confessions is die debuut van die 31-jarige Catherine Airey, 'n Brit met Ierse wortels, en die boek word reeds as een van die beste debute van die jaar bestempel. En met reg.
Confessions, 'n baksteen van 'n boek met 461 bladsye, vertel die verhaal van vier vroue in een familie - twee susters, 'n dogter en kleindogter. Elkeen kry 'n beurt om hul storie te vertel.
Dit begin met Cora, wat nie net haar ma op agtjarige ouderdom verloor nie, maar ook haar pa in die aanvalle in New York op 11 September 2001.
Die twee susters, Máire en Róisín, verskil soos dag en nag. Hulle het ook hul pa op 'n jong ouerdom verloor en hul lewe verander drasties in die klein dorpie op die Ierse platteland waar hulle woon, onder meer met 'n ma wat ophou praat en aan haar bed gekluister bly.
Later gaan Máire, gekompliseerd van kleintyd, New York toe om kuns te studeer. Róisín moet bly om hul ma op te pas. Die vierde hoofkarakter is Lyca, Cora se dogter, wat as tiener reeds besef haar nabye familie het verskeie geheime wat ver weggesteek word.
Confessions speel oor verskillende tydvakke af - van die 1970's tot 2023 - en elkeen van die karakters kry hul eie hoofstukke om hul storie te vertel.
Die enigste man wat 'n vertelbeurt kry, is Michael, die buurseun toe Máire en Róisín jonk was en wat later New York toe agter Máire aan is.
Die skrywer kry dit uitstekend reg om elkeen van die hoofkarakters hul eie stem te gee. Máire se hoofstuk word byvoorbeeld in geheel in die derde persoon geskryf, asof sy 'n toeskouer van haar eie lewe vol trauma is; só geskryf dat jy kan verstaan waarom haar lewe verloop het soos dit het.
Confessions is 'n familiesaga wat amper onmoontlik is om neer te sit. Dit handel nie net oor familiegeheime nie, maar ook oor kwessies soos aborsie, geloof, om soos 'n vreemdeling te voel, die impak van familietrauma generasies later en geheime wat, wanneer dit uiteindelik aan die lig kom, kan verwoes, maar ook kan genees. Die intriges talm lank ná die lees nog by 'n mens.
Dis 'n ambisieuse roman en net die regte medisyne vir die verandering van seisoene wanneer lees in die herfsson al is wat nodig is.
Ilza Roggeband is 'n vryskutresensent van Melkbosstrand.















