Boeke

Bloedbande daag leser uit

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Misdaadfiksie

Blood Ties

Jo Nesbo

HARVILL SECKER, R380

Twee kenmerke is nuttig om 'n suksesvolle moord te kan pleeg. Eerstens moet jy oor die vermoë beskik om die versteekte swak plek in jou opponent se mondering te kan uitsnuffel, en tweedens moet jou hart koud genoeg wees om die spies daarin te steek.

Hul ouers was die eerste twee, maar daarna het nog vyf gevolg.

Dit is wat Roy Opgard se pa hom geleer het. En Roy het geluister. Sy pa, die wolf-skaapwagter, wat saans by sy kleinboet Carl se kamer ingesluip het, se swak plek was sy klassieke motor. Gepas dus dat hy, saam met hul ma wat verkies het om anderpad te kyk, aan sy einde sou kom op die skerp draai neffens hul plaashuis, in die einste motor. Maklik ook, want Roy is 'n motorwerktuigkundige en die terrein bemoeilik die herwinning en ondersoek van voertuigwrakke.

Hul ouers was die eerste twee, maar daarna het nog vyf gevolg; die ondersoeker wat te nuuskierig geword het, 'n sakeman, 'n huurmoordenaar, Carl se vrou, Shannon, en haar ongebore kind. Almal op dieselfde verraderlike draai.

Die stof het gaan lê op die wrakke, die lyke is begrawe. Roy het die eienaar geword van 'n gerespekteerde plaaslike motorhawe met drome om 'n gesogte pretpark te bou, kleinboet Carl die flambojante en suksesvolle eienaar van 'n boetiek-hotel-en-spa.

In die verlede was Roy altyd die staatmaker, die een wat Carl se kastaiings uit die vuur moes krap.

Maar nie almal het vergeet nie. Kurt Olsen het albei dinge wat nodig is om die gewaande paradys tot in sy fondamente te skud: wraaksugtigheid en toegang tot moderne forensiese toetse wat nuwe lig kan werp op die tragiese verhale van die motorwrakke. Sy drang om die verlede te ontmasker is die sneller tot krake in die fondasie van die kleindorpse, mafia-agtige koninkryk.

Roy is die eerstepersoon-verteller. Sy narratief is betroubaar, maar die spanningselement word behou deur dit wat hy teenoor die leser verswyg. Die leser is derhalwe bewus daarvan dat Shannon swanger was met sy kind ten tyde van haar afsterwe, nie met Carl s'n nie.

Carl is die tradisionele held - aantreklik, welgesteld en charismaties, teenoor Roy, wat klein van postuur en dislekties is. In die verlede was Roy altyd die staatmaker, die een wat Carl se kastaiings uit die vuur moes krap. Die broers se verhouding word egter toenemend tot 'n klimaks gedryf soos wat hulle wedersydse misleidingspogings ontmasker word.

Juis hierin lê die onderskeiding tussen hierdie roman, die tweede in die reeks in Noorweegs getiteld Kongeriket (Kingdom), en die skrywer se bekende Harry Hole-reeks.

Laasgenoemde word uit die perspektief van 'n regstoepasser aangebied, maar Roy en Carl het meer met Puzo se Godfather gemeen as met Hole, en verteenwoordig 'n intense familiedrama wat die grense van lojaliteit en bloedbande dissekteer en uitdaag.

Anschen Conradie is 'n vryskutresensent van Makhanda­.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM