In die rubriek "By my lees" praat skrywers en boekemense oor hul leesavonture. Jaco Jacobs het al meer as 260 kinderboeke in Afrikaans gepubliseer. Baie van sy boeke is ook vertaal in onder meer Engels, Nederlands, Italiaans, Spaans en Sloweens. Hy het sy eerste boek op sewe jaar oud geskryf en geïllustreer, en sy eerste kortverhale gepubliseer toe hy op hoërskool was. Hy het op die Karoodorp Carnarvon grootgeword.
Die boek wat die grootste invloed op my gehad het:
'n Baie belangrike, befaamde en belese man het my eendag dieselfde vraag gevra, en ek het sonder om te skroom geantwoord: IT van Stephen King. Hy het byna aan sy tee en toebroodjie verstik oor my vreeslik onliterêre antwoord. Maar daardie boek het my destyds as jong skrywer in wording meegesleur, nes die stormwater Georgie se papierbootjie in die boek saamsleur, en my laat dink: So, só wil ek eendag skryf. Só wil ek 'n storie vertel wat jou boei tot op die punt waar jy nie vinnig genoeg kan lees nie. Só wil ek karakters skep wat rêriger as regte mense voel. Dis 'n cliché, maar dis waar: King is 'n meesterverteller. Hy ken die kuns om karakters te skep wat diep onder jou vel inkruip of wat jy met jou hele lesershart verfoei. En hy is op sy beste wanneer hy oor kinders en hul leefwêreld skryf.

Die boek wat ek toe nooit klaar gelees het nie:
Die kremetartekspedisie van Wilma Stockenström. Ek wéét dis briljant, maar ek het seker al ses keer probeer en tot my skaamte kom ek nie verby die eerste bladsy of drie nie.
Die boek wat my lewe verander het:
Ek het Bryce Courtenay se The Power of One iewers in my laerskooljare gelees. Vir 'n wit laerskoolseun wat tydens die apartheidsjare in 'n konserwatiewe kleindorpgemeenskap grootgeword het, het dit 'n nuwe wêreld oopgemaak en my laat besef hoeveel onreg daar in die wêreld bestaan. Ek onthou nog goed, toe ek (spoiler alert!) by die toneel kom waar die boelie Peekay se geliefde troetelhoender doodmaak, het ek agter my duiwehok gaan wegkruip sodat ek huil-huil verder kon lees. Daardie boek het my nie net 'n lewenslange weersin in enige vorm van onreg en boeliegedrag gegee nie, maar ook 'n voorliefde vir hoenders wat telkens in my skryfwerk opduik en my uitgewer soms tot raserny kan dryf!
Die laaste boek wat die trane laat loop het:
O, ek huil baie maklik, maar ek kan nie nou dink wat spesifiek die laaste boek was wat my laat huil het nie. Van die boeke wat my egter oor die jare trane laat stort het, is Ek stamel ek sterwe (Eben Venter), Eleanor Oliphant is Completely Fine (Gail Honeyman), Love That Dog (Sharon Creech), A Man Called Ove (Fredrik Backman), Disgrace (J.M. Coetzee), Extremely Loud and Incredibly Close (Jonathan Safran Foer) en The History of Love (Nicole Krauss).

Die boek wat ek tans lees:
Ek is pas klaar met Celeste Ng se Little Fires Everywhere, een van daardie boeke wat destyds by my verbygegaan het toe dit (reeds in 2017) gepubliseer is en wat ek nog altyd wou lees.
Nou is ek so half "tussen boeke" - en wat ek dikwels in so 'n geval doen, is om 'n bundel kortverhale so proe-proe te lees. Op die oomblik herlees ek dus Jeffrey Archer se A Quiver Full of Arrows en A Twist in the Tale. Archer is, nes Roald Dahl, 'n meester van die kortverhaal met 'n onverwagte kinkel in die kabel in die slotparagraaf, en dit is heerlike ontsnappingsleesstof.

Die skrywer wie se boeke ek almal gelees het:
Dis seker maklik om te raai: Stephen King. Ek is sedert my kinderdae 'n Stephen King-aanhanger, 'n liefde wat ek by my ma gekry het. Ek onthou hoe sy, toe ek nog klein was, boeke soos Cujo en Firestarter gelees het. Die voorblaaie was fantasties, en ek wou altyd weet waaroor die stories gaan. Aan die einde van st. 1 (gr. 3) het ek biblioteek toe gegaan en probeer om een van sy boeke uit te neem. Die kwaai biblioteektannie het my vingerswaaiend gestuur om die boek te gaan terugsit en my die pad terug na die kinderboekafdeling beduie. "Dan sal my ma dit vir my kom uitneem," het ek haar meegedeel. En my ma hét. In die Desembervakansie aan die einde van my st. 1-jaar het ek dus Christine deurgelees - met 'n woordeboek byderhand, want in die Karoo het jy daardie tyd maar min blootstelling aan die Rooitaal gekry. Ek besit die meeste van die boeke wat King in sy loopbaan geskryf het.
Die boek wat ek in 'n kind se hand gee:
Ek glo kinders moet self kies wat hulle graag wil lees, sommer reeds wanneer hulle vier of vyf jaar oud is. My eie twee dogters is nou 10 en 13, en hulle is gek daaroor om by die plaaslike boekwinkel in te stap en self tussen die rakke rond te snuffel tot hulle iets ontdek waarvan hulle hou. Dis die beste manier om seker te maak dat hulle wel die boek lees wat jy vir hulle present gee, en dit boonop geniet.




















