In die gereelde rubriek By my lees deel skrywers en boekmense hul leesavonture. Hier vertel die digter Joan Hambidge, wie se jongste digbundel, Asindeton, pas by Protea verskyn het, meer oor haar leeswerk.
Die boek wat die grootste invloed op my gehad het. Die boek wat my lewe verander het.
Bepaald N.P. van Wyk Louw se Nuwe verse, wat ek as matrikulant gelees het. En hierdie bundel het gehelp om stiltes (afwesighede) te begryp. Nou, as volwasse mens, besef ek hoe ek van hierdie gedigte van buite geken het.
Die boek wat ek nooit klaar gelees het nie.
Ek lees alle boeke tot die einde. Sit dit neer en later lees ek verder. Daar is altyd iets te vinde in elke boek wat geskryf is. Ek laat 'n boekmerk en dan lees ek klaar . . . met notas in die kantlyn. Eers potlood. Dan met 'n pen.
Soms is 'n mens nie reg vir 'n boek nie, maar die regte oomblik sal die boek of bundel vir jou oopmaak.

Die boek wat ek tans lees.
As kritikus lees ek meer as een boek op 'n slag. Tans herlees ek die volledige oeuvre van Johann de Lange, vriend en digter, wat onlangs oorlede is.
Not This Tender, Sarah Uheida se digbundel.
Antjie Krog se verbluffende, aangrypende dubbelportret oor haarself én Dot Serfontein: Binnerym van bloed. Ek het dit nou al drie keer gelees. Dit laat jou lag, huil én besef hoe belangrik familie uiteindelik is. Hélène Cixous se essay "Sorties" en Klipwerk van Louw.
Ek is 'n herleser, herbesoeker, terug-kyker.

Die skrywer van wie ek al sy of haar boeke gelees het.
Saul Bellow. Van begin tot einde. Elke jaar herlees ek Herzog en Humboldt's Gift vir die insigte oor menswees. Die humor. Die filosofie. Die sinisme. Die stilistiese beheersing. Alles so perfek. Uitsonderlike talent.
Die boek wat die trane laat loop het.
Die Amerikaanse digter Robert Pinsky se Jersey Rain. Sy eerlike terugkyk op sy jeug, sy gedigte oor die Jesus-kind . . .
Die gedig waar elke woord vir jou regval.
Van Wyk Louw Louw se "Vroegherfs". 'n Ongelooflike gebed én selfbesinning.

Die boek wat ek as troos lees.
Die Tibettaanse boek van lewe en dood.
En natuurlik gedeeltes uit die Bybel. Veral daardie verse wat ek as kind onderstreep het.
Umberto Eco se The Role of the Reader. As teoretikus en uitsonderlike skrywer navigeer hy verskillende prosesse van lees. Hierdie boek is altyd in my reistas met notas gemaak in 'n hotel in Egipte. Dan sien ek hoe ek eens was, gelees én gedink het.
Roland Barthes se Roland Barthes by Roland Barthes. Geskryf asof dit 'n roman is, maar slim, verhulde toespelings op sy jeug, siekte en die absolute beheer tussen emosie en intellek.
Die boek wat ek graag as geskenk gee.
Mense het verskillende leessmake en persoonlikhede. Maar ek gee graag Wilma Stockenström se Die kremetartekspedisie as cadeau. Of Abjater wat so lag.
En Johann de Lange se versameling Judasoog, 'n keur uit sy verse.
Die boek wat ek 'n kind in die hand gee.
Opperman se Kleuterverseboek.





















