Fiksie
Our London Lives
Christine Dwyer Hickey
ATLANTIC BOOKS, R350
Dié is nié 'n liefdesverhaal nie. Of soos Thomas Dolby sing: "Some people sing love songs. Everybody's got one. This isn't my love song. It's more like my love gone wrong song."
Vir amper 40 jaar is Milly en Pip se "amper-maar-tog-nie"-liefdesverhouding ook "close, but no cigar".
Ooreenkomste met Great Expectations, onder meer ook met Pip as hoofkarakter, is klinkklaar.
In 1979 verruil die 18-jarige Milly Ierland, waar IRL-bomaanvalle en konflik heers te midde van The Troubles, vir Londen. Ondanks haar Ierse afkoms kry sy werk in Mrs Oak se kroeg, waar sy Pip, 'n aspirerende Ierse bokser met 'n problematiese voorliefde vir whisky, ontmoet. Van meet af aan lê die magsposisie in die verhouding by Pip en is Milly bloot sy reddingsboei.
Die titel weerspieël Milly en Pip se bestaan in Londen, maar verwys ook na die stad as getuie daarvan. Dis meer as 'n geografiese ligging. Die titel suggereer ook verlies, 'n opoffering van iets waardevols oor tyd.
Wanneer Pip 'n eksemplaar van The Waste Land onder hande kry, vind hy aanklank by T.S. Elliot se uitdrukking van verlies, verval en gebrokenheid. Pip se teenspoed is grotendeels gekoppel aan sy alkoholisme en mishandeling as kind, terwyl tyd en vooruitgang die landskap rondom hom verweer en verander het.
Dwyer Hickey skep 'n tydkapsule van Londen oor 40 jaar heen en vang die hartklop van kroegkultuur en die mense wat dit bewoon, besonder goed vas.
Net soos haar landgenote is Dwyer Hickey se uitbeelding van die menslike kondisie en kompleksiteit van verhoudings gevestig in realisme.
Ooreenkomste met Great Expectations, onder meer ook met Pip as hoofkarakter, is klinkklaar. Mrs Oak, soos Miss Havisham, het die liefde van haar lewe verloor, klou verbete aan 'n vervalle gebou en beskou Milly as haar dogter, net soos Havisham met Estella. Drummle trou met Estella vir Havisham se geld. Milly trou met die ontwikkelaar wat die grond waarop die kroeg, wat haar en Mrs Oak se jarelange tuiste is, gaan herontwikkel. Dickens se Pip ontmoet Estella in die ruïnes van Satis House, terwyl sy naamgenoot 38 jaar later sy liefde aan Milly verklaar in die verlate kroeg.
Benewens oppervlakkige ooreenkomste is daar tematiese raakpunte soos die kontras tussen die platteland en stadslewe, liefde as bevryding en sosiale vervreemding.
Die oorheersing van Ierse skrywers op verlede jaar se Booker-pryslys is geen toeval nie. Die skryfstyl, karakters en onderwerpkeuse van Ierse skrywers trek telkens die aandag van die literêre wêreld. Kyk maar na John Boyne, Colm Tóibín, Sally Rooney, Louise Kennedy en Sebastian Barry. Net soos haar landgenote is Dwyer Hickey se uitbeelding van die menslike kondisie en kompleksiteit van verhoudings gevestig in realisme. Die kern van Our London Lives is egter die futiele besef dat die lewe net 'n asem lank is en tweede kanse skaars.
Sonja van der Westhuizen is 'n vryskutresensent van Durbanville.















