Boeke

‘Hell Run’ heerlike avontuur

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Fiksie

Hell Run Tobruk

Justin Fox

JONATHAN BALL, R310

Justin Fox is 'n skrywer wat jou met sy veelsydigheid, verbeeldingskrag en vertelvermoëns laat wonder hoe presies hy dinge só gedoen kry.

Dat Fox 'n oog het vir 'n sterk fotokomposisie en weet hoe om jou met reisvertellings te boei is reeds bekend, maar dat hy 'n helse oorlogsverhaal- en avontuurroman kan pleeg, is dalk nog nie aan vele lesers hier duidelik nie.

Hell Run Tobruk is die derde in Fox se aangrypende Jack Pembroke-reeks; oorsee is lesers gaande oor die karakter en verkoop die reeks soos soetkoek. Ná die stewige eerste aflewering, The Cape Raider, en die nog beter tweede boek, The Wolf Hunt: Nazi Terror in South African Waters, bewys Fox homself as naelbyt-aksieverhaalmeester.

Hoewel Fox se Pembroke 'n verfrissend gewone en in vele aspekte heel onbesonderse oorlogsheld is, is hierdie roman een wat sy titel gestand doen. Hier is meedoënloos, intense aksietonele en sekwense wat nietemin nooit die hoofkarakter as anker afskeep nie.

'n Gedetailleerde verhaalopsomming sal hier te veel ruimte opneem, maar die spesifieke tydvak van Desember 1941, met WO2 in volle gang en Rommel se magte wat volstoom deur Noord-Afrika voortploeg, is belangrik. Lt. Jack Pembroke moet van Suid-Afrika na Egipte seil, aansluit by 'n konvooi, en met die klein HMSAS Gannet die Geallieerde Magte se pogings onderskraag en versterk. Kanse op oorlewing is uiters skraal. Pembroke leef steeds saam met sy Dunkirk-trauma.

Die kern van die verhaal neem vorm aan wanneer die aksie van Alexandrië - waar Pembroke behoorlik geroer word deur 'n aanvallige Spaanse skoonheid - na Tobruk verskuif. Dis hier waar die Tweede Suid-Afrikaanse Infanterie-afdeling 'n tuiste vind: Pembroke en die Gannet doen hul bes om met so min as moontlik verlies aan lewens en rantsoene 'n daadwerklike verskil te maak, maar maklik gaan dit beslís nie wees nie.

Jou hart gaan sit meer as gereeld in jou keel soos Fox die spanningskrane oopdraai. Hy laat jou kopkrap oor wie gaan oorleef, ook soos Fox jou telkemale verras met fyn borduurwerk wat later in die verhaal se verloop groot betekenis aanneem.

Vroeg-vroeg beleef jy reeds hoe Fox sy skrywerspierkrag tentoonstel met die inkleur van konteks; hoe hy die tafel dek vir verskeie groot en intieme konflikte. Veral ook die klemverskuiwing ná The Wolf Hunt se fokus op verskillende lae van identiteit en ideologie na die konkrete belewenis van maritieme oorlogvoering en strategie verskuif. Genugtig, maar Hell Run Tobruk doen baie met sy skaars oor die 200 bladsye - daar is selfs lieflikhede wat betref digter Kafavis en Easter eggs wat verwys na Fox se essayversameling, Place. Fox kraai koning!

• Jonathan Amid is 'n vryskuttaalpraktisyn en resensent van Stellenbosch.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM