Boeke

Kô, lat ons skryf

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Ricardo Arendse, Veronique Jephtas, Nathan Trantaal en Mercy Kannemeyer.
Ricardo Arendse, Veronique Jephtas, Nathan Trantaal en Mercy Kannemeyer.

Afrikaans is ryk aan variante en dialekte. En dié diversiteit word ál meer in ons literatuur, teaterstukke en op televisie verteenwoordig.

Ricardo Arendse, 'n bekroonde draaiboekskrywer en dramaturg, sê: "Ek dink dis belangrik vir skrywers om hulself uit te druk in 'n taal, of dan nou, 'n variant waarmee hulle die gemaklikste is. Dit maak nie net die storie meer geloofwaardig nie, dit maak dit ook outentiek."

Hy sê prof. Julian Sonn, wat spesialiseer in transformerende leierskap, verwys na skrywers en kunstenaars as "die geestelike leiers van ons gemeenskap". Daarom is dit vir Ricardo belangrik dat skrywers hul gemeenskappe moet verteenwoordig deur die mense se storie te vertel. "Sodoende leer ons van mekaar en word ons daaraan herinner dat ons meer in gemeen het as wat ons dink."

Ricardo skryf meestal teaterstukke in Afrikaans.

"Dit is nie net meer toeganklik vir my as skrywer nie, maar ook vir die massas vir wie ek so baie lief is - 'n play kan 'n mens enige plek loop neerplak en die mense sal kom," verduidelik hy.

"Toe ons Die halwe huis terug Oudtshoorn toe neem, het 1 200 mense gekom en 70% van hulle het nog nooit vantevore professionele teater gesien nie. So daar bestaan steeds 'n groot geleentheid vir gehoorontwikkeling.

Veronique Jephtas, 'n bekende digter, skrywer, aktrise en TikTokker, sê dis vir haar verskriklik belangrik om in haar moedertaal, Afrikaans, te skryf.

"Dis die ienagste manier waarop en waarin ek myself eerlik kan express. Sommige dinge raak lost in translation, en wat Afrikaaps vir my skep, isse ruimte om alles wat ek sê nader aan die huis te bring!"

Die sê-goed is wat sy die meeste geniet van in haar taal skryf. "Die ritme vannie taal, hoe lewendig dit is en hoe ek intelligentlykan praat met my mense sonne om ienage iemand te alienate. Dis soes huiskos."

Of daar 'n toekoms vir Afrikaapse skrywers is, antwoord Veronique: "Ja, unless ôs ammel op een tyd doodgaan, maa ôs gaan nêrens. Daa isse toekoms want ôs skep en skryf en ôs is hie en ôs gat môre en oormôre hie wies."

Hy dra vele hoede: digter, spotprenttekenaar, vertaler, dramaturg, draaiboekskrywer, kortverhaalskrywer, rubriekskrywer en dosent. En Nathan Trantraal skryf graag in sy taal.

"It isse basic human rightom in jou eie taal te kan skryf. It issie belangrik vi my nie, of rather dit behootie belangrik te wies vi my nie. It moet iets wies wat ek vi granted kan vat soes om asem te hal. Ek dink die meer pertinent vraag is hoekom it virre siekere soot pesoon belangrik is dat ek nie in my eie taal moet skryf ie."

Hy sê hy skryf graag gedigte. "As ek gedigte skryf dan issie processklaa assie gedig klaa geskryf is. Soe, it is sootvan 'n autonomous process.

"In elke anne genre, issie woore deel vanne langer, groter en painful process."

Daar is deesdae groot belangstelling in Kaaps as 'n variant, en Nathan sê hy "raakie carried away nie, maa is nice om te sien".

"Die belangrikste is vi Kaapse skrywers om ôs beste te doen om quality writingte skryf. En om die taal in soeveel depth as possible te explore. 'n Moment innie spotlight bedoel niks as jy shallow issie. Ek kry 'n sense somtyds dat Kaapse skrywers gereed is om hulle victory lap te vat. Maa in realitybegin die wêk nou ees, weg van dai spotlight. Die regte wêk happen altyd weg vannie spotlight, innie unglamorous stilte."

Die skrywer, regisseur, teatermaker, produksiebestuurder en meningsvormer Mercy Kannemeyer sê die toekoms van Afrikaans skitter nog helder. "Ek skryf meningstukke, teaterstukke, asook draaiboeke vir televisie. Daar is belangstelling. Daar is kykers. En daar is lesers. Solank ons sprekers geïnteresseerd bly, sal ons aanhou floreer."

Sy sê dit is belangrik dat daar in verskillende Afrikaanse variante geskryf word sodat die taal aanhou groei. "Die taallandskap verander vinnig, en ons moet bybly. Een van die maniere waarop ons kan bybly is om verskillende taalvariante te ontwikkel en te omarm."

Tasneem van Rooyen en Danielle Daniëls

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM