
Dis Theo se dilemma in Theo & Flora, geskryf deurMark Winkler (Umuzi, R250). Nadat Charlie Wasserman se vrou van hom skei en uit die huis trek, ontdek hy 'n boks ou briewe in 'n kas in haar kantoor. Die briewe is geskryf deur Theo, sy eksvrou se oupa, en Flora, sy minnares. Charlie, 'n skrywer wat net nie weer aan die skryf kan kom ná die sukses van sy vroeëre boeke nie, word deur die briewe geïnspireer om weer die pen op te neem. Theo ervaar 'n dilemma, want hoewel hy gek is na Flora, kan hy net nie van sy vrou geskei kom nie. Hul komplekse gesinslewe is een kinkel en die skeiwet van daai tyd die ander.
Winkler vertel twee stories in een, Charlie s'n en Theo en Flora s'n, in die verhaal wat Charlie skryf wat hy op die briewe grond. Al word Charlie deur sy eks se regspan beveel om die briewe te vernietig, doen hy dit nie. Hy vertel 'n roerende verhaal oor Theo se buite-egtelike verhouding met die veel jonger Flora. Wat hy skryf, kan Theo se beeld in sy eks se oë laat taan. Deur Charlie se interpretasie van die briewe word die realiteit van 'n Joodse gemeenskap in die vroeë 40's in Kaapstad treffend geskets. Winkler se skryfstyl is geestig en aandoenlik. Die twee liefdesverhale in een het baie fasette en maak die boek onvergeetlik. - Phyllis Green

Lunch with a dragonfly,Leverne Mountany (bestel die e-boek op Amazon.com)
Mountany gebruik haar agtergrond in sielkunde om 'n verhaal bestaande uit twee storielyne met mekaar te verweef. Die een speel in die hede af en die ander in die verlede. Caprise dra die storie wat in die moderne tyd afspeel. Sy is 'n marionetmeester en reis die wêreld vol saam met haar toneelgeselskap om vertonings aan te bied. Iona is die hoofkarakter in die verhaal wat in die vorige eeu in konserwatiewe Ierland afspeel. Wanneer Iona swanger raak, word sy weggestuur na 'n klooster. Toe sy agterkom haar baba en haar veiligheid word deur die pa bedreig, bekook sy en haar suster 'n plan om na die nuwe wêreld van Amerika te vlug. In die hede word Caprise ook die teiken van 'n bewonderaar wat haar lewe bedreig en haar sy besitting wil maak. As jy hou van stories waar die onwaarskynlike en 'n bietjie toorkrag alles kan regmaak, dan sal jy hou van hierdie ongewone liefdesverhaal. Mountany bring die twee storielyne uiteindelik bymekaar, hoewel hierdie leser effe té sinies is vir die gelukkige einde van die verhaal. - Phyllis Green

Geliefde Rebel, Frenette van Wyk (Lapa Uitgewers, R225)
Malaika bestuur 'n donkierehabilitasiesentrum op Salem in die distrik van Beaufort-Wes. Sy huur die plaas by oom Michiel Steyn. Sy dogter, Heloise, was saam met haar op skool. Op haar beste vriendin se troue sien Malaika weer vir Baron, op wie sy tien jaar gelede verlief was. Sy is vasbeslote om vir hom te wys dat sy 'n sukses kan maak met haar donkies. Wanneer Baron belangstelling toon in die donkies en byna elke dag op die plaas uithang, besef Malaika dat sy nie so oor Baron is as wat sy geglo het nie. Maar Heloise het self haar oog op Baron en maak die lewe vir Malaika en haar donkies moeilik. Dan is daar Wayne - haar getroue vriend wat meer wil hê as vriendskap, maar Malaika is nie seker of sy dieselfde voel nie.
As jy 'n diereliefhebber is, sal hierdie verhaal aan jou hartsnare pluk. Die donkies is 'n integrale deel van die storie. 'n Ongewone liefdesverhaal. - Alma Liebenberg

No Child of Mine, Susan Lewis (Century, R215)
Alex Lake woon en werk op 'n Britse kusdorp. Sy is 'n maatskaplike werker vir die kinderbeskermingseenheid. Maar vir haar is dit meer as 'n werk - dit is wie sy is. Hoewel frustrasie deel van haar daaglikse taak is, is daar niks wat meer bevredigend is as om 'n kind in 'n veilige en liefdevolle huis te plaas nie. Dan ontmoet sy die driejarige Ottilie Wade en sy is heeltemal onvoorbereid vir die uitwerking wat dié kind op haar het. Op die oog af lyk dit asof alles wel is met Ottilie en sy niks kortkom nie, hoewel sy baie stil en asosiaal is. Iets is nie reg in die Wade-huis nie. Lê die probleem by haar asosiale ma of is dit haar immer verdedigende onderskoolhoof-pa? Gaan Alex betyds uitvind wat aangaan?
Die hartverskeurende verhaal gaan oor dinge in gesinne waarvan almal bewus is, maar doelbewus probeer ignoreer omdat dit te moeilik is om daaroor te dink.- Alma Liebenberg

Forbidden love in St Petersburg, Mishka Ben-David (Orion UK, R285)
Yogev Ben-Ari trou met sy jeugliefde, Orit. Wanneer Yogev vir die Mossad, Israel se intelligensiediens, gewerf word, raak dinge moeilik. Orit en Yogev het twee uiters uiteenlopende opinies oor sy beroep en uiteindelik kos dit hulle hul huwelik. Yogev is platgeslaan en werp hom geheel en al in sy werk sonder om ooit weer aan liefde te dink. Wanneer hy na St. Petersburg gestuur word, verander dinge. Onder die dekmantel van 'n sakeman moet hy inligting insamel. Daar ontmoet hy Anna, die eienaar van 'n boekwinkel. Sonder dat hulle dit beplan, raak hulle verlief. Mossad-agente word egter verbied om hegte vriendskappe te vorm en beslis nie verhoudings nie, maar Yogev is nie bereid om Anna prys te gee nie. Tot watter uiterstes sal die Mossad gaan om hierdie verhouding te stop en is Anna wie sy sê sy is? - Alma Liebenberg

The Eye of the Reindeer, Eva Weaver (Orion UK, R295)
Ek het nie op skool van geskiedenis gehou nie, want dit het altyd vir my gevoel asof dit net mans se stories is wat vertel word. Ek het nooit 'n onderwyser gekry wat lus was om te antwoord nie wanneer ek ten minste een keer per kwartaal gevra het, waarmee was die vroue dan daardie tyd besig?
Ek dink baie skooldogters het soos ek gevoel en dis moontlik hoekom historiese romanses so 'n gewilde genre onder vroue-lesers is, veral as die hoofkarakter 'n vrou is. Dis 'n lekker alternatief tot grysbroekdraende geskiedenishandboeke.
Dié boek val nou nie presies in die genre nie, maar ek het meer geleer oor 'n stukkie Skandinawiese geskiedenis as wat ek ooit elders sou geleer het. Die aangrypende storie is gegrond op feite oor die Sami-volk van noordelike Skandinawië wat mens dadelik verder wil laat oplees. Beste van alles: dit word suiwer uit 'n vrou se oogpunt vertel.
Die storie wentel om Ritva en Martta. Hulle ontmoet as jong vroue in 'n gestig vir geestelike versteurdes op 'n afgesonderde eiland. Eintlik is hulle soontoe gestuur weens die effek wat seksuele mishandeling op hulle gehad het. Dis skokkend hoe sulke pasiënte behandel is en lewenslank verban is - selfs tot redelik onlangs. Dié deel van die boek is ook op feite gegrond - die eiland bestaan werklik. Die twee ontsnap en daar volg 'n meesleurende avontuurverhaal van hul oorlewing en hul herontdekking van hulself en hul wortels in die Sami-volk. Dis nie 'n ware verhaal nie, maar die agtergrond en navorsing is so goed gedoen dat dit netsowel waar kon gewees het. Weaver (terloops, dis die perfekte van vir iemand wat so 'n storie kan weef) vleg ook Sami-legendes en -stories en 'n lekker skoot mistisisme in die storie in. Wêreldgebeure van die afgelope eeu speel ook 'n rol en die tragiese impak op die Sami is hartverskeurend.
Dis 'n lieflike, fassinerende boek oor 'n yskoue land vol rendiere en robbe, so anders as Suid-Afrika as wat jy jou maar kan voorstel, en tog met soveel raakpunte as dit kom by bewaring, omgewingsake en inheemse oervolke wat aan die uitsterf is. Jy gaan beslis jou atlas en wikipedia wil nader trek om meer uit te vind. Daar is selfs Sami-musiek op YouTube: pragtige byblywende melodieë. - Helen Schöer

The Queen of Bloody Everything, Joanna Nadin (Mantle, R180)
Almal sê dat die gras altyd groener is aan die anderkant en vir 6-jarige Dido word die gesegde waar toe sy by hul nuwe bure sien waarna sy nog altyd gesmag het - 'n "normale" familie. Dido se ma Edie is eksentriek en cool, en heeltemal die teenoorgestelde van die buurvrou Angela. Maar Dido sal ook nooit kan inpas by die buurfamilie nie, haar lewe is te ver verwyderd van wat hulle as normaal ag.
Geskryf in die vorm van 'n belydenis teenoor haar ma, nou sterwend, vloei drie dekades van hul stormagtige lewens en liefdes uit in 'n kleurvolle konfetti van geheime, onthullings en skrille erkennings soos wat Dido probeer sin maak van hul verhouding.
'n Besonderse boek wat mens lank oor die verhaal laat nadink. - Nadia de Jongh

Christmas under the stars, Karen Swan (Pan Books, R109 e-boek)
In die sneeubedekte berge van die Kanadese Rockies, leef Meg en Mitch hul droom. Enkele weke voor hul troudag deel hulle hul lewe met hul oudste vriende, Tuck en Lucy. Wanneer 'n hewige storm losbars, tref tragedie. Alleen in die klein berghut in die berge waar sy en Mitch woon, probeer Meg desperaat om te radio vir hulp. Sy maak kontak met die mees onverwagse: 'n stem oor die luggolwe wat kan sien wat sy nie kan nie.
Soos die seisoen verander en die vriende probeer leef met hul verlies, begin al die verhoudings wat Meg gedink het rotsvas is, wankel weens spanning, twis en verwoestende geheime. Niks is meer dieselfde nie en slegs haar radio-kontak verstaan hoe dit is om werklik alleen te wees. Soos wat hul verhouding groei, voel Meg hoe haar toekoms begin wegskeur van haar verlede en word sy gedwing om 'n vreemde waarheid te oorweeg: is dit haar vriende wat die vreemdelinge is en 'n vreemdeling wat haar vriend is? - Nadia de Jongh

The Hating Game, Sally Thorne (Piatkus, R264)
Die uitgewersbedryf regoor die wêreld sukkel om by te hou en kleiner uitgewers soos Bexley en Gamin moet noodgedwonge saamsmelt om aan die lewe te bly. Die boekliefhebbers en aanhangers van stories as 'n kunsvorm wat voorheen vir Gamin gewerk het, word nou gedwing om saam met die stywelip besigheidsbreine van Bexley in dieselfde kantore te werk. Lucy Hutton en Joshua Templeman is geen uitsondering nie. Joshua werk vir die haatlike meneer Bexley en niemand hou van Joshua nie. Al is hy selfs as aantreklik beskryf, is hy niemand se gunsteling nie. Lucy Hutton werk vir die meer geliefde Helene Pascal. Lucy is vriendelik en gaaf en sy kom met almal oor die weg. Buiten Joshua Templeman. Hy is ook die enigste persoon wat haar op haar geboortenaam, Lucinda, aanspreek. Sy haat hom en dit lyk of hy dit geniet om op haar senuwees te werk. Elke dag vind hy nuwe maniere om haar in trane te laat uitbars. Om alles te vererger, is daar 'n groot bevordering op die spel. En as Joshua Templeman wen, sal hy Lucy se baas word. Hoe baie haat Lucy hom nou eintlik? Kan hulle selfs vriende word?
Die storielyn is op plekke voorspelbaar en soms voel die stereotipiese karakters van die aantreklike Joshua en borrelende Lucy net te oppervlakkig. Daar is 'n paar snaakse oomblikke en die dinamiek tussen Lucy en Joshua is egter boeiend tot aan die einde. - Antoinique van Staden

The Last Son's Secret, Rafel Nadal Farreras (Doubleday, R160)
In die suide van Italië 1918 word die lewe aan twee babas geskenk; 'n dogter en 'n seun. Albei se pa's het pas in die Eerste Wêreldoorlog gesterf. Vitantonio se ma skep 'n leuen sodat die twee babas as 'n tweeling grootgemaak word. Hierdie leuen is veronderstel om Vitantonio van sy pa se familievloek te beskerm. Soos die jare verbygaan, raak die tweeling onafskeidbaar. Maar met nog 'n wêreldoorlog wat broei, is die lewe soos hulle dit ken, besig om te verbrokkel. Die lief en leed van 'n klein Italiaanse dorpie tussen en gedurende oorloë, word deeglik beskryf in hierdie droewige verhaal. - Danica Gouws













