Jeugfiksie (14+)
Foto's en fairy lights
An-Mari do Carmo
HUMAN & ROUSSEAU, R250
Ouma het altoos gesê "te" is 'n slegte ding, behalwe "tevrede" en "tesame".
Elzandri ken dit maar te goed.
Volgens almal wat saak maak, is sy te impulsief, te lui, te gou verveeld, te verstrooid en het sy te min deursettingsvermoë.
Dit kan so wees dat enige gr. 11-leerling gekonfronteer met die familiedrama wat 'n troue voorafgaan, die ontluiking van daardie eerste liefde en die druk om toekomsbesluite te neem, effens verbouereerd kan raak, maar sy weet dit is iets groters in haar geval: "Daar is iets in my brein wat gebreek is, want maak nie saak hoe hard ek probeer nie, ek kan nie!" (bl. 189)
Die skrywer se grootwordjare in die KwaSizabantu Sending-kultus (Toe als groen was, 2022) dra by tot die realistiese uitbeelding van die bykomende druk wat ervaar word in 'n gesin waar die patriarg outokraties en onversetlik optree.
Die skrywer se grootwordjare in die KwaSizabantu Sending-kultus (Toe als groen was, 2022) dra by tot die realistiese uitbeelding van die bykomende druk wat ervaar word in 'n gesin waar die patriarg outokraties en onversetlik optree.
Elzandri en haar sibbes word tuis onderrig en hul pa ". . . vind met elke kerk op aarde fout en verkies om sommer huiskerk te hou." (bl. 76) Sy ultimatum aan Elzandri om binne 'n gegewe tydsraamwerk haarself te bewys indien sy oor haar eie toekoms wil besluit, hang derhalwe inderdaad soos die swaard van Damokles bo haar kop.
Haar stryd met haarself as gevolg van ongediagnoseerde neurodiversiteit word realisties en empaties uitgebeeld. Sy ". . . wens sy kan haar brein se spoed verminder . . ." (bl. 32), ". . . weet sy moet iéts begin doen, maar dis asof sy verlam is. Sy wil begin, maar sy kan nie . . . Wat is fout met haar?" (bl. 36), en versteek die foto-bewyse van 'n leeftyd se "te" in 'n "boks vol mislukkings" (bl. 107) onder haar bed.
Elzandri se verhaal, teen 'n Taylor Swift-klankbaan, is 'n oproep tot bewusmaking en die kweek van deernis en ondersteuning vir mense en vermoëns wat afwyk van die hoofstroom, verpak in 'n tienervriendelike teks met 'n romantiese geur.
Anschen Conradie is 'n vryskutresensent van Makhanda.


















