Boeke

Om net ’n nommer te word

dana snyman
dana snyman

Maar wie is troep7830249BG? Die een wat erken hy het nie sy magsnommer uit sy kop geken nie? In sy jongste boek, Seun, skryf Dana Snyman: "Ek kon nog nooit my magsnommer onthou nie, nie tóé nie, ook nie nou nie." Maar alles anders wat met hom gebeur het, onthou hy wel, al het hy dit tot nou toe diep binne in hom weggesteek.

Seun.
Seun.

Hy vertel sy storie, weerloos en eerlik, sodat hy sin kan maak van daardie tyd. Hy beskryf die dag toe iets in hom geknak het en hy 'n offisier met die skouer geloop het. Vir hierdie woedeuitbarsting moes hy gestraf word, en so beland hy in 1 Militêre Hospitaal in Saal 24. Elke dag sien hy sielkundiges wat oor sy lot moet beskik. Hy drink die pille wat hulle hom gee, al laat dit hom soos 'n zombie voel. Uiteindelik word sy pa gebel om hom te kom haal. Die weermag wil nie meer vir troep 7830249BG hê nie. Hy word oneervol ontslaan uit die weermag; die rede gee hulle nie vir hom, wel vir sy pa.

Wat in die weermag gebeur het, het Dana dobberend gelaat. Hy lei die lesers deur sy lewe, van hoe hy moes werk soek en hoe hy gesukkel het om aan te pas. Wat met hom gebeur het, het Dana laat twyfel in homself, hom ook vrae laat vra oor sy manlikheid. Waar is sy plek in die samelewing? Hy kry eindelik 'n werk in 'n boekwinkel. Alles daar loop nie vlot nie, maar hy word daar tog deur iemand raakgesien. Dana vertel roerend hoe hierdie een mens se omgee 'n verskil in sy lewe gemaak het en hom 'n brokkie selfwaarde gegee het.

Die rou en eerlike vertelling gryp jou aan die bors, soos die joernalis, Tim du Plessis, op die voorblad verklaar. Hy noem dit 'n dapper memoir. Op die agterplat beskryf prof. Thys Human die boek as "'n brawe besinning oor die lang skadu's wat die verlede tot in die hede gooi." Albei gee gepaste beskrywings van die boek.

Dit vat 'n brawe mens om so diep binnetoe te kyk, om die roof van die wond af te krap, om te kyk na die "onverwerkte herinneringe wat [hom] geteister het totdat [hy] Seun geskryf het." Nou, 40 jaar later, kan Dana terugkyk en met vrede in sy hart skryf: "Van die mens wat ek tóé was, het net herinneringe oorgebly." Troep 7830249BG bestaan nie meer nie, vandag heet hy Dana Snyman.

SARIE-Boekeredakteur Phyllis Green het per e-pos met Dana Snyman gesels oor Seun (Tafelberg, R320)

Skrywer Dana Snyman. FOTO: verskaf
Skrywer Dana Snyman. FOTO: verskaf

In al jou vorige boeke skryf jy oor eie ervarings, maar Seun voel vir my die persoonlikste. Hoe moeilik was dit om jou diepste wese in hierdie boek te ontbloot?

Ek dink jy is reg: Seun is my persoonlikste boek. Dit is vreemd: Aan die een kant was dit moeilik om so intiem oor myself te skryf, aan die ander kant het dit 'n soort vrede gebring. Ek het altyd my neus so 'n bietjie opgetrek wanneer mense van skryf praat asof dit 'n soort terapie is. Maar met Seun het agtergekom, skryf kan tog terapeuties wees. Ek is deur 'n hengse depressie-episode terwyl ek aan Seun gewerk het.

"Ek probeer nog altyd doen wat 'n goeie Afrikanerseun doen." - bl. 15Dink jy hoe jy grootgemaak is, het gemaak dat jy sekere dinge net aanvaar het as jou plig, sonder om vrae daaroor te vra?

Baie beslis, ja. Daarmee wil ek nie sê my Christelik-Nasionale opvoeding het net vir my psigiese verwarring gebring nie. Ons is ook goeie waardes geleer: werk hard, wees eerlik, ens. ens. Maar dit het ook 'n donker kant. Ons is op 'n manier gebreinspoel om die NP-politiek en die Kerk se leeringe vraagloos te aanvaar, wat vir baie mense in die land pyn en ontbering gebring het.

In die weermag word dienspligtiges gereduseer tot 'n nommer, iemand wat afgebreek moet word om deel te word van 'n trop wat blindelings opdragte uitvoer. Jy skryf oor vrees: "Waar hou vrees op en begin patriotisme?" - bl. 37. Later in die boek vra jy ook vir jouself of jy nie maar net 'n sissie of 'n lafaard is nie. Kommentaar asb.

Dis twee kwessies wat my moontlik vir altyd oor myself sal laat wonder. Ek het vriende wat in die weermag was en grensdiens gedoen het - en het baie respek vir hulle. Ook vir ander eervolle soldate. Maar ek weet ook van 'n klomp soldate wat steeds innerlike wonde het waarmee hul al vir jare rondloop en wat 'n regstreekse invloed op hul gesinne en families het. Ek glo - en, asseblief, ek spog nie daarmee nie - ek was op my eie manier dapper om teen Die Sisteem van destyds te rebelleer.

Jy is as kind gespot oor jou gewig en om iemand anders te sien wat ook verneder word oor sy gewig is die ding wat jou tydens jou weermagopleiding laat knak het. Kan jy meer hieroor sê asb.

My oorlede pa was ook 'n groot, mollige man. Dalk sê ek iets wat nie wetenskaplik waar is nie, maar dis vir my asof party mense geneties meer geneig is om vetsugtig te wees. Ek was so 'n vet seuntjie. Vir party kinders was ek "oom Dik Daan", vernoem na die karakter in die Bollie-tydskrif. Ek het nie 'n baie goeie selfbeeld nie, en ek glo dis omdat ek gespot is omdat ek vet was. Dit gee my baie empatie vir oormatige vetsugtige mense. Party eet te veel om innerlike wonde te probeer besweer.

Jy beland in 1 Militêre Hospitaal in Saal 24, omdat jy volgens die weermag 'n sielkundige probleem het. En jy word gediagnoseer as skisofreen en kwytgestel van diensplig. Hierdie boek is 'n verwerking van daardie persoonlike letsel wat op jou gelaat is, hierdie gebeure was soos 'n skandvlek in jou. Jy het van jou kinderdae af 'n moeilike verhouding met jou pa gehad. Watter impak het jou ontslag uit die weermag op jul verhouding gehad?

Ek sal nooit die kyk in my oorlede pa se oë vergeet die dag toe hy my in Voortrekkerhoogte kom haal het nie - die dag toe ek uit die weermag ontslaan is. Dit was of my pa skielik bang was vir my, asof hy die pa is van hierdie disfunksionele kind wat vir die res van sy lewe by hulle in die huis sal moet woon. In daardie tyd het my pa by die AWB betrokke geraak en 'n persoonlike vriend van Eugene Terre'Blanche geword. Dit het baie konflik tussen ons gebring. Maar ek is dankbaar om te kan sê in sy laaste jare van sy lewe het ons mekaar "gevind" en 'n mooi verhouding gehad.

En hoe het hierdie gebeure jou selfwaarde geknou?

Ek is baie onseker van myself, op allerhande maniere. Miskien is dit hoe ek geestelik bedraad is. Dat ek 'n mislukte soldaat is, het my by tye laat twyfel oor my manlikheid. Daardie onsekerheid is genadiglik verby. Ek het 'n wonderlike verhouding met my vriendin. Hoewel ek seker altyd nogal onseker sal wees oor dit wat ek skryf en so.

Jy beskryf jouself as 'n buitestaander, "die een wat in 'n boom sit, alleen, en kyk wat ander doen." Wei uit asb.

Ek is 'n enigste kind, 'n vet seuntjie wat gespot is. Dit het beslis gehelp om van my 'n buitestaander te maak. Iemand wat mense eerder dophou, wat byna nooit heeltemal tuis tussen te veel mense voel nie.

Vertel meer oor die rol wat boeke en musiek in jou lewe speel, want op 'n manier is dit die dinge wat jou insig in jou persoonlikheid gee en wys dat daar tog ander mense met dieselfde eienskappe as joune is. Of lees ek dit verkeerd?

Dis 'n verdrietige ding om te sê, maar goeie boeke en - musiek het my nader aan die Liewenheer gebring as byna alles wat ek in die Kerk geleer het. Ek het kerklos geword, maar net aanhou lees en lees. Goeie boeke. Mettertyd raak jy bevriend met ander ernstige lesers. Ons is 'n kerk-sonder-mure, dink ek. Wil ook darem net sê ek gaan weer kerk toe en ontmoet wonderlike, jong predikante. Het onlangs vir die eerste keer in meer as 20 jaar weer Nagmaal gebruik.

Om te probeer werk soek met die meulsteen van jou ontslag uit die weermag, was baie moeilik. Jy beland uiteindelik in 'n boekwinkel en alles verloop daar ook nie vlot nie. Tog het dit net een mens, meneer Botes, gevat wat jou potensiaal raakgesien het, om die koers van jou lewe te verander. Kommentaar asb.

Meneer Botes se teenwoordigheid in my lewe is 'n misterie, 'n bestiering as jy wil. Hy was die digter D.P.M Botes wat reeds oorlede is. 'n Kontroversiële man en gulsige leser en versamelaar van boeke. Hy het agtergekom ek hou van lees en boeke, en my aan nuwe skrywers voorgestel. Ek dank die Liewenheer vir hom.

"'n Man mag weemoedig raak. 'n Man hoef nie 'n bars te kan kyk en 'n duiker met een skoot te kan doodskiet nie." - bl. 202. Daai ding van "cowboys don't cry", waarom dink jy is baie mans steeds te bang om hul emosies te ontbloot?

Dis seker 'n ingewikkelde ding dat party mans die lewe traanloos wil aanpak. Baie daarvan het iets te doen dat ons - veral mans van my geslag - trane as 'n teken van swakheid sien. Is om jou eie weerloosheid soms te erken, nie juis 'n baie dapper ding nie?

Jy skryf dat daar nog baie eerlike boeke oor die onderwerp van diensplig moet verskyn. Watter bydrae sal dit lewer tot 'n meer ewewigtige gemeenskap?

Ek sê dit in alle nederigheid, maar ek hoop Seun kan party ander mans inspireer om hulle stories te vertel. Veral party gay troepe. In Saal 22 - dit het later Saal 24 geword - in die ou Militêre Hospitaal op Voortrekkerhoogte is party gay troepe elektriese skokbehandeling toegedien in 'n poging om van hulle heteroseksueel te maak. Dis die reine waarheid. Ons ouens wat dit nie in die weermag kon maak nie, moet ons stories vertel.

Het die skryf van hierdie boek vir jou berusting gebring oor jou weermagervaring?

Dit het, ja. Nadat ek die eerste kopië van die boek ontvang het, het ek in my bakkie geklim en Voortrekkerhoogte toe gery en daar gaan rondloop. Die ou 1 Mil-hospitaal is intussen afgebreek, maar ek het daar in die lang gras gestaan waar dit was - en dit was vir my of 'n soort kringloop in my voltooi is.

Dana Snyman se boekwinkel in Kaapschehoop. FOTO: verskaf
Dana Snyman se boekwinkel in Kaapschehoop. FOTO: verskaf

Jy het nes geskrop op Kaapschehoop in die Laeveld. Vertel my van jou nuwe besigheid daar.

Ek het 'n klein boekwinkeltjie begin. Dis maar in sy kinderskoene. Ek het nog ander ander planne, maar kan nie nou al daaroor praat nie.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM