Memoires
'n Vrou staan op
Ilse Verster
LAPA, R300
Dis so prentjie-perfek in die sprokiesverhale.
Elke ellende wat die heldin ooit getref het, verdwyn soos mis voor die son wanneer sy saam met haar prins die sonsondergang instap. Al die trauma van die verlede, of dit nou 'n giftige appel, of 'n duisendjarige slaap was, word eensklaps uitgewis.
Die verskil tussen sprokies en die werklikheid is soos die verskil tussen 'n jongeling en 'n bejaarde ruiter wat van hul perd val; die jonger ruiter spring vinnig penorent asof niks gebeur het nie, maar die ouer ene staan in paaiemente op.
Esli, die anagram waarmee die eerstepersoon-verteller identifiseer, was bykans 40 jaar aan die genade van 'n narsistiese alkoholis uitgelewer. (So lyk 'n vrou, Lapa, 2022.) Haar herstel was (en is) egter veel meer as die enkele gebeure wat in die 2022-publikasie se laaste hoofstukke beskryf is; dis 'n episodiese, herhalende proses, die ruggraat van haar opstaan-verhaal.
Trauma slaan sy tentakels in jou wese soos die dorings van 'n wag-'n-bietjie-bos. Selfs wanneer jy daarin slaag om jou daarvan los te skeur, ontsnap jy met wonde. En dikwels ook met afgebreekte stukkies dorings wat hul eie tyd neem om uit te sweer.
Die pad na genesing is minder skrikwekkend as dit aan die hand van 'n geliefde gestap word, maar dit moet steeds gestap word. Esli vertel openhartig van die wisselende, soms teenstrydige emosies wat ervaar word wanneer sy moet wegstap van een lewe en die uitdagings van 'n nuwe moet aanvaar. Dis 'n verhaal van opstaan en omdraai, maar ook van struikel, twyfel en weer probeer, van hoop wat soos 'n feniks uit die as verrys.
Die oënskynlike gebrek aan struktuur dien egter as 'n metafoor vir opstaan as 'n proses, een tree vorentoe, twee treë terug.
Die struktuur van hierdie memoires kan met die eerste oogopslag effe chaoties voorkom. In die eerste deel vertrek Esli op 'n letterlike en figuurlike reis wanneer sy haar sitplek in 'n bus inneem, min wetende dat sy op die drumpel staan van 'n romantiese ontmoeting wat haar lewe sou verander.
Die donker wolk van die hangende egskeiding verdryf egter die silwer randjie en die werklikheid van diepgewortelde trauma steek weer sy kop uit. Hierna beweeg die teks na raadgewende hoofstukke oor haar eie ervarings met narsisme en alkoholisme; die tydige identifikasie van waarskuwingstekens en patrone; advies in die regsmynveld; en die werklikheid van die stelling: "Om te skei van 'n narsis is soos 'n tsunami; dit kom met geweld, en die geweld hou aan en aan." (bl. 167)
Die oënskynlike gebrek aan struktuur dien egter as 'n metafoor vir opstaan as 'n proses, een tree vorentoe, twee treë terug. Want die herstelpad ná die ervaring van intense trauma is ongekarteer en onvoorspelbaar. Dit vra om geleef te word, nie om verklaar te word nie.
• Anschen Conradie is 'n resensent van Makhanda.















