
Beeld 50, saamgestel deur Erika de Beer (Jonathan Ball, *R390) is 'n wonderlike terugkyk na die geskiedenis van die koerant. Maar dis ook 'n dokumentasie van die grootste nuusgebeure wat ons land sedert 1974 geraak het. Ek is 'n oudredaksielid van Beeld en kon nie wag om die boek te lees nie. Ek het eers vinnig deur die boek geblaai net om 'n gevoel te kry, maar dan sien ek 'n foto, 'n naam of 'n opskrif raak, dan maak my nuuskierigheid dat ek eers moet lees waaroor geskryf word. Die boek neem lesers op 'n herinneringsreis van die soet en die suur van "die geskakeerde leefwêreld van die Afrikaanse gemeenskap in die noorde van die land." As jy deur die uitgesoekte foto's, spotprente, voorblaaie van die koerant en grafika blaai, is dit duidelik waarom Beeld die Suid-Afrikaanse dagblad is wat al die meeste as die mooiste aangewys is.
In die inleiding verduidelik samesteller Erika de Beer die inhoud van die boek as volg:
"In elk van die vyf hoofstukke vertel ons eers die storie van min of meer 'n dekade van Beeld, of minstens grepe daarvan. Dan kom die medestryders aan die woord om te vertel van die stories agter die stories wat hulle en hul kollegas deur die jare vir Beeld geskryf het."
Dit was 'n massiewe taak om die boek saam te stel in net 6 maande, want daar moes deur al die ou uitgawes gesif word om die mees relevante materiaal uit te haal. Leonie Klootwyk, Beeld en sy susterpublikasies se noordelike bibliotekaris, was 'n steunpilaar hiermee skryf Erika: "Met verbete speurwerk het sy goud raakgeboor, soos die vonds van voorblaaie uit die eerste dekade wat vroeër jare in 'n waterlekkasie in Beeld se gebou verwoes is." Verder het voormalige redakteurs en ander oudlede van die Beeld-span tyd afgestaan om "kosbaarhede en verlore name op foto's uit hul geheuebank te onttrek."
Wat 'nlieflike boek! Ek is dankbaar dat ek as oudredaksielid weer die reis kan meemaak.
In dié uittreksel vertel die koerant se joernaliste hoe hulle spesifieke stories gedoen het en wat hulle steeds bybly van daardie ervaring.

Die held van Monumentpark, soos onthou deur Tina Swiegers
Op 'n wintersoggend in 1976 moes ek en die fotograaf Gert Vosloo 'n uitpasseringsparade op Voortrekkerhoogte bywoon. Daarvoor moes jy al sewe-uur by die paradegrond wees.
Op ons terugrit in die Beeld-Volla sien Gert hoe 'n vegvliegtuig baie laag oor die huise op die Monumentpark-koppie vlieg. Hy roep iets uit, draai dadelik regs en sit voet-in-die-hoek in die rigting van die vliegtuig. Die volgende oomblik sien ons net 'n bol rook en vlamme.
Ons was binne oomblikke op die ongelukstoneel - heel eerste. Die Impala Mk. II het letterlik 'n teerpad verwyderd van die huise neergestort. Dit was asof ek van buite my liggaam die verskriklike toneel waargeneem het: Brandende wrakstukke het wyd verspreid oor die oop stuk veld gelê. Terwyl Gert foto's neem, het ek tussen die wrakstukke geloop en soek na die vlieënier. Ek het uiteindelik langs 'n bondeltjie brandende mens tot stilstand gekom. Daar was niks wat ons vir hom kon doen nie.
2lt. Kevin Winterbottom het op 9 Junie 1976 as 'n held gesterf. Die Impala se enjin het opgehou werk nadat 'n voël daarin beland het. Hy kon homself betyds uitgeskiet het, maar het die vliegtuig doelbewus veilig oor die Laerskool Monumentpark, besige strate en huise gestuur om as die enigste slagoffer te sterf.
Dié 20-jarige is later postuum met 'n Honoris Crux vir Dapperheid vereer.
Op sy begrafnis het 'n lang vrou in 'n donkerblou tweestuk met haar hare in 'n grys bob soos 'n standbeeld gestaan. Sy het geen emosie getoon nie. Sy het alleen aan die onderpunt van haar kind se graf gestaan. Lot se vrou. Ek kon nie my oë van haar wegskeur nie. Dit was die stilste smart wat ek ooit aanskou het. Die lang, regop vrou sonder 'n traan.
Volgens Gert Vosloo het lede van die lugmag op die ongelukstoneel daarop aangedring dat hy sy film uit sy kamera haal en vir hulle gee. Hy het die regte film in sy broek weggesteek en vir hulle 'n leë een gegee.

Kamera, lense, films en leer deur Phyllis Green
Toe ek voor sonop op 10 Mei 1994 met 'n leer op 'n bus klim, moes ek vreemde kyke verduur - wat voor sononder in jaloesie verander het.
Dit was die dag van die Nelson Mandela se inhuldiging as president.
Die oomblik toe die datum van die inhuldiging bekend gemaak is, het Jan Hamman, Beeld se hooffotograaf, begin beplan. Beeld moes meeding met talle plaaslike én buitelandse nuusspanne. Ons kon net twee fotograwe op die terrein hê, een in die amfiteater waar die inhuldiging sou plaasvind en een op die onderste vlak waar die belangrike gaste sou aankom.
Jan het besluit ek en hy sou by dié twee punte diens doen. Die ander fotograwe sou alles om die Uniegebou se terrein afneem. Gerhard Potgieter, hooffotograaf in Pretoria, het met iemand wat in 'n woonstel oorkant die Uniegebou bly, gereël om op die gebou se dak te kom, van waar hy alles wat in die tuine gebeur asook die verbyvlug van die helikopters met die vlae sou kon afneem. Christiaan Kotze en Nicolene Olckers moes die strate invaar en die geesdriftige publiek afneem.
Toe ons vooraf oor toerusting gesels, sê ek vir Jan ek sal 'n leer moet saamvat. Hoekom, vra hy toe. Ek het uitgevind langs die pad waarlangs die belangrike gaste sou aankom, gaan soldate in gelid staan, en het besef ek sal bo-oor hul koppe moet kan uittroon om enigsins te sien.
Ek en Jan moes vieruur die oggend saam met al die ander geakkrediteerde mediamense in Centurion bymekaar kom om met 'n bus aangery te word. So klim ek op daardie bus met 'n 1,5 m-aluminiumleer - nie 'n opvouleer nie, 'n lang en ongemaklike affêre om te dra. In daardie bus is ek vreeslik gespot oor my verspotte idee om die leer saam te sleep. Ek het dit maar verduur en probeer om nie lomp in almal se pad te wees nie.
Daardie leer het my alie gered, want daarsonder was daar geen foto's van die belangrike mense nie. Die oomblik wanneer mense soos Hillary Clinton, Benazir Bhutto, Jasser Arafat, Tokyo Sexwale, Allan en Elna Boesak uit hul motor klim - met hul rug na my, het ek van my leer af soos 'n mal mens vir hulle geskree. Eers wanneer hulle omdraai om te kyk wie skree vir hulle, kon ek hulle sien en afneem. FW de Klerk en Madiba het ook op hierdie punt aangekom kort voor die amptelike inhuldiging in die amfiteater. Gelukkig was Jan in beheer daar! Maar van my posisie op my leer kon ek die straatgebeure, die kinders met hul landsvlaggies en selfs die helikopters se verbyvlug afneem.
Telkemale sou 'n oorsese fotograaf of kameraman vra of hulle nie maar my leer vir 'n wyle kan leen nie . . . Helaas, hulle moes maar hul eie saamgedra het! Op die terugrit was hulle almal dit eens, dit was 'n slim plan. Ek en Jan het net stilweg geglimlag.

Sonde van die bure, soos onthou deur Elise Tempelhoff
Een Sondag vroeg in 2002 was ek en my gesin by 'n Lutherse kerk in ons dorp, Vanderbijlpark. Dit was 'n paar dae nadat die destydse Yskor in 'n tweede ronde duisende fabriekswerknemers afgelê het.
By die teedrinkery ná die kerkdiens raak ek aan die gesels met 'n oudwerknemer van Yskor. Hy leef lekker, vertel hy my, al het hy as jongerige man 'n skeidingspakket gekry. Toe ek hom vra hoe hy dit regkry, was sy woorde: "Marietjie sorg vir ons." Toe bly hy stil, draai om en loop weg.
Ek het nie die vaagste benul gehad wie dié Marietjie was nie. Maar "Marietjie, die engel van Vanderbijlpark", sou binne twee maande landwyd bekend raak vir die grootste piramideskema wat teen daardie tyd in Suid-Afrika bedryf is. Dit is later as 'n Ponzi-skema geklassifiseer.
Tot my verbasing het ek gou uitgevind Marietjie Prinsloo bedryf Krion vanuit haar grys huis met die hoë grensmure 'n klipgooi van ons huis af. Ek het van die luuksste en blinkste motors langs die grys huis gesien staan. Later sou ek uitvind dit behoort aan Prinsloo se agente.
Toe alles nog goed gegaan het, het mense maandeliks met sakke kontant by die grys huis weggeloop. Elke Krion-vergadering (waar geld uitbetaal is en beleggers meer belê het) is met Skriflesing en gebed geopen, het 'n fluitjieblaser my vertel.
Dié werknemer van Prinsloo het my feitlik van minuut tot minuut op hoogte van die groot ineenstorting gehou.
Toe die kaartehuis in Mei 2002 inmekaar tuimel, het Prinsloo en haar seun Cobus Pelser, wat ook baie naby ons gewoon het, my van hul eiendom weggejaag en daarvan beskuldig dat ek hul sakeonderneming in die wiele gery het.
Ek was weer daar toe hulle in hegtenis geneem is. Mense het my gebel en uitgeskel omdat hulle gemeen het hulle is hul beleggings kwyt weens my beriggewing. Ander het hul tragiese verhale met my gedeel. Ek het laatnag oproepe gekry van likwidateurs wat vra ek moet vir hulle name van beleggers gee sodat hulle dié mense kan vra om hulle in te stem om die reuseboedel te beredder. Ek het geweier omdat ek gemeen het hulle moet hul eie werk doen.
Intussen het sowat R1 miljard tussen neus en ore verdwyn. In die soektog na die Krion-miljoene is mure van Prinsloo se grys huis platgeslaan omdat sy glo geld daar sou versteek het as 'n neseier vir wanneer sy uit die tronk kom. Al die direkteure van Krion is in 2010 tot tronkstraf gevonnis: Prinsloo tot 25 jaar weens bedrog, rampokkery en geldwassery. Hulle is eers in 2015 tronk toe.
Soos Schalk van Zuydam, destyds 'n Beeld-fotograaf, een keer terloops vir my gesê het: "Elise, this story is too close to your home."

‘My poppie, ek lees Beeld', soos onthou deur Hanti Otto
Meer as 200 internasionale en plaaslike joernaliste plus familielede moes vir Oscar Pistorius se borgtogaansoek in 'n hofsaal vir 80 mense pas, skryf Hanti Otto, hofverslaggewer in Pretoria.
"Ons moes soggens van so 06:00 af tou staan en stamp en stoei voor die hofdeur - wat eers 08:00 sou oopmaak. As jy eers sitplek het, kan jy nie badkamer toe gaan of buitentoe gaan vir 'n selfoonsein nie, want iemand sal jou plek steel.
"Ek het in daardie twee weke min geslaap. Toe Pistorius borgtog kry en alles bedaar, moes ek by 'n haarkapper uitkom, want ek het maar oes gelyk. Ek sit met donker kringe onder my oë, lewensmoeg en my haarkapper verf strepies in my hare en langs my praat die tannies oor Oscar.
"Een bly vir almal haar weergawe van die borgtogaansoek vertel en wanneer iemand verskil, tik sy met haar vingers op die kassie en hou vol dat sy alles weet, want sy het Beeld gevolg. In 'n stadium is haar feite so 'n bietjie grys en ek - wat darem vir Netwerk24 en Beeld daaroor verslag gedoen het - wil reghelp.
"Sy tik haar lang naels op die kassie voor haar. ‘My poppie, jy kan my niks vertel nie. Ek het alles in Beeld gevolg. Ek weet presies wat daar geskryf is.'"
*Prys kan wissel van winkel tot winkel














