
In Bets Smith se spanninsgverhaal, Kringloop (Lapa Uitgewers, R265) is dit waarmee Reine Duvenhage te kampe het. Sy is 'n finalis in die universiteit se jooldebutantekompetisie. Maar dan duik daar 'n man op oral waar sy gaan. Die teisteraar se ongewenste aandag maak dat sy 'n saak by die polisie aanmeld. Niemand, nie eers die polisie, neem haar ernstig op nie en verdink haar daarvan dat sy besig is met 'n publisiteitsfoefie om stemme te werf vir haar veldtog om as joolkoningin bekroon te word. Eers toe sy aangerand word, word die erns van die situasie besef. Speurder Pieter Taljaard ondersoek die saak, maar kan nie 'n skuldige identifiseer nie. Wat staan Reine te doen, want haar lewe moet voortgaan, sonder dat sy die heeltyd oor haar skouer moet loer?Reine verdwyn uit die openbaar, ondergaan verskeie kosmetiese operasies en voltooi haar studies en neem 'n vals naam aan in 'n poging om aan te gaan met haar lewe. Ongelukkig daag daar skielik 'n paar mans uit haar verlede in haar nuwe tuisdorp op. Is een van hulle haar teisteraar en waarom word sy geteiken? Taljaard se ondersoek kry opnuut momentum wanneer hy nuwe leidrade opvolg.Bets Smith se verhaal neem jou na 'n onseker wêreld waar jy die heeltyd oor jou skouer moet loer om te sien wie jou bekruip. Skrikwekkende gedagte! Die drade van die verhaal word vernuftig vasgeknoop wanneer die gebeure tot 'n punt kom. Smith weet hoe om jou aan die lees te hou. - Phyllis Green

'n Bek vol Strandveld, onthou-verhale uit die Suidpuntstreek, Piet van As (Strandveld Boeke, R250)
Vertelkuns laat mens op 'n nuwe manier na jou taal luister. In hierdie bundel stories, gedigte en briewe maak Piet Van As die unieke taalgebruik van die Strandveld weer lewendig. Ek het hier vir die eerste keer van poelakke gehoor, dis die bynaam wat inwoners vir die mense van die omgewing gebruik. En al het meeste mense in die moderne tyd die bynaam ontgroei, "is daar nog hier en daar 'n iemand wat heel trots sy poelakskap dra omdat jy met so 'n amp met soveel onheilige gedrag kan wegkom." (bl.64). Dis juis die poelakke in sy stories wat dit kleur gee en wat die streek se eiesoortigheid beklemtoon.Jy kan nie anders om meegevoer te word deur die onthou-verhale nie en so bietjie hartseer te ervaar oor hoe vinnig die wêreld verander nie. Dis met trots en warmte wat Piet sy hartswêreld met ons deel. - Phyllis Green

As dit proe soos liefde, Didi Potgieter (Lapa Uitgewers, R225)
Ná ses jaar in Londen keer Lisa Steyn terug na Suid-Afrika, met net een doel voor oë, om Carel de Villiers se huwelik te stop. Daarvoor het sy net 'n maand tyd. Wanneer sy in die Kaap aanland, is al die pyn en herinneringe net so werklik soos ses jaar gelede toe Johann, Carel se broer, haar weggstuur het Londen toe. Sy is vasberade om haar regmatige plek langs Carel op te eis. Lisa se aansoek as versorger vir Carel en Johann se pa wie 'n beroerte gehad het, is suksesvol, en sy trek op die De Villierse se wynplaas in. Gou-gou eet hul pa uit Lisa se hand uit en sy glo haar beplanning verloop goed. Maar die lewe het ander planne en vinnig verander dit die koers van haar lewe. Wraak is toe nie meer so aantreklik nie. - Alma Liebenberg

Letters to Iris, Elizabeth Noble (Penguin, R290)
Vir Tess is haar ouma Iris haar rots om aan vas te klou, die een vir wie sy al haar geheime kon vertel en op wie sy kon staat maak vir raad en bystand. Nou is Iris vasgevang in die skemer wêreld van Alzheimer se siekte. Wanneer Tess ontdek sy is swanger ten spyte van voorbehoeding, verander haar lewe. Sy ontmoet vir Gigi toe sy vir Iris in die hospitaal gaan kuier. 'n Hegte vriendskap, een wat sy nie verwag het nie, ontwikkel tussen hulle. Twee parallelle storielyne vertel Tess en Gigi se lewensverhale vanuit hul onderskeie oogpunte. Noble trek die brieftema van begin tot einde deur hierdie dramatiese verhaal wat jou op 'n ontdekkingsreis van die karakters se geheime neem. In krisistye leer hulle hulself ken. Die briewe aan Iris verskaf 'n ekstra laag aan die lekkerlees verhaal. - Phyllis Green

A Spy in Time, Imraan Coovadia (Umuzi, R260)
Wanneer 'n supernova in 2271 die aarde tref, oorleef daar nie baie mense nie. Net diè wat in die ou Johannesburgse myntonnels weggekruip het. En dit word hulle taak om te probeer verhoed dat die aarde ooit weer vergaan. Hulle skep die Historiese Agentskap met die doel om die verlede te bestudeer om seker te maak dat die wêreld nie weer eindig nie. Een van die agente wat gebruik word om terug in tyd te gaan, is Enver Eleven. Op sy eerste veldopdrag saam met Shanumi Six om inligting oor die agentskap se vyand, Keswyn Muller, in te samel, verdwyn Shanumi. Enver moet nou op sy eie probeer oorleef totdat die agenstkap hom kan terugstuur na sy eie tyd in die toekoms in. Wanneer hulle hom uiteindelik vind, maak baie dinge nie vir hom sin nie. Om agter die waarheid te kom, sal hy op sy eie instinkte moet vertrou. Niemand gee vir hom die antwoorde waarvoor hy vrae vra nie. Hy word op 'n volgende opdrag gestuur, hierdie keer na Rio de Janeiro toe, en daar verander alles.
Hierdie wetenskapfiksie verhaal is vol kinkels en draaie wat jy nie sien kom nie. Die verbeeldingryke manier waarop Coovadia post-apokoliptiese Johannesburg beskryf, trek die leser vanaf die eerste bladsy by die storie in. Definitief die moeite werd. - Antoinique van Staden

Woman of State, Simon Berthon, (Harper Collins Publishers, R325)
In 1991 word Maire Anne McCartney deur haar kêrel Joseph Kennedy genader om die IerseRepublikeinse Leër te help. Al wat sy moet doen, is om 'n Britse polisieman na 'n woonstel te lok waar die IRL met hom wil gesels. Joseph belowe haar dat daar geen geweld sal wees nie, en dat haar broer Martin bewus van die plan is. Hy het sy goedkeuring daarvoor gegee. Maar Marie besef dat Joseph vir haar gelieg het wanneer die polisie aan haar deur klop met vrae oor die verdwyning van die Britse polisieman. Maire het geen ander keuse as om oor die grens na Engeland te vlug nie.Jare later word die menseregte prokureur Anne-Marie Gallagher (eens Maire Anne) aangestel as dieminister van staatsveiligheid en immigrasie. Dan ontvang die polisie in Belfast 'n anonieme wenk wat speurkonstabel Jon Carne lei na 'n liggaam wat in die veld begrawe is. Intussen kry Anne-Marie 'n boodskap wat haar laat besef dat die nuwe lewe wat sy vir haarself geskep het in die gedrang is. Carne se ondersoek lei hom na Anne-Marie en sy moet besluit hoe ver sy sal gaan om haar nuwe lewe te beskerm. Naelbyt intrige sorg vir 'n uiters realistiese speurverhaal van begin tot einde. - Karien Labuschagne

Twelve Nights, Andrew Zurcher (Penguin, R215)
Kay en Ell se pa, 'n argeoloog, verdwyn die aand voor Kersfees spoorloos. Orals waar hulle hom gaan soek, lyk dit asof hy nooit eens bestaan het nie. Hoe is dit moontlik dat iemand die een oomblik hier is en die volgende oomblik net weg is? Wanneer Kay die aand saam met Ell gaan slaap, ontdek sy 'n visitekaartjie met 'n aardige beskrywing op. Sy pak dit weg en dink nie verder daaraan nie, totdat 'n geraas buite die venster haar later die nag wakker maak. Flip en Will is spookagtige wesens wat deur die venster klim en Kay is nie veronderstel om hulle te kan sien nie. Wanneer sy hulle vra hoekom hulle haar pa se tand so dringend soek, besef Flip en Will dat hulle geen getuies kan agterlaat nie. En so eindig Kay en Ell in die warmlugballon om hul saak voor Ghast te gaan stel en te vra wat van hul pa geword het.
Wanneer Kay en Ell in die berg aankom, lyk van die beelde vir Ell bekend. Daar is nie tyd om bang te wees nie want die oomblik toe hulle land, word Kay en Ell van mekaar geskei. Dit word Kay se werk om alles in haar vermoë te doen om weer by Ell uit te kom, want oor twaalf nagte verdwyn haar pa vir ewig en dan is alles verlore.
Die wonderlike reis deur 'n fantasiewêreld met kinkels en draaie sal enige avontuurlustige behaag! - Antoinique van Staden

We'll always have Paris: Trying and Failing to be French, Emma Beddington (Macmillan, R185)
Hierdie is die memoires van die prokureur en draaiboekskrywer Emma Beddington. As tiener ontdek sy 'n Franse Elle-tydskrif. Net daar en dan besluit sy sy wil Frans wees! Van daai oomblik af verdiep sy haarself in alles wat Frans is, die kultuur, verhoudings en Frankryk self.
Die storie gaan nie regtig oor Parys nie. Dit is 'n Engelse meisie se reis om haar plek in die wêreld te vind. Dit ondersoek die vrae: wat doen jy as jy by jou droombestemming uitkom, net om te vind dat dit niks is soos wat jy gedroom of gehoop het nie? Hoe erken jy aan jouself dat jy misluk het? Wat doen jy daarna en hoe maak jy die beste van die situasie? 'n Interessante lees wat jou insig gee in die Engelse-, Franse- en Belgiese kulture. - Alma Liebenberg

The golddiggers, Sue Nyathi (PanMacmillan, R260)
Op ? warm dag in 2008, te midde van Zimbabwe se ekonomiese en politieke verval, sit 10 passasiers in ? Toyota Quantum. Hul bestuurder, Melusi, is ? ‘transporter' - hy gaan hulle van Bulawayo na Johannesburg smokkel.
So begin daar ? hellevaart vir hierdie tien goudsoekers. Die leser leer die passasiers intiem ken. Elkeen het ? unieke verhaal, maar net een gemeenskaplike doel: hulle glo die goudstad is die beloofde land waar hul geluk uiteindelik gaan draai.
Die reis ontaard vir almal in ? bitter stryd om oorlewing. Die immigrante se verhale word op realistiese, en dikwels baie ontstellende, wyse geskets.
The golddiggers bring die tema van onwettige immigrasie en xenofobie opnuut na vore. Die skrywer is soms geneig tot ‘mooiskrywery', maar sy slaag daarin om die leser se aandag deurgaans gevange te hou en veral haar treffende beskrywings van Hillbrow se strate bly mens by. Hierdie is geensins ? maklike lees nie, maar dis ? uiters relevante verhaal - een wat vertel móét word. - Adele Vorster

Asylum City, Liad Shoham (Faber Factroy Plus, R200)
Anat Nachmias, 'n talentvolle en sensitiewe speurder, kry die geleentheid om haar eerste moordondersoek te lei. Die menseregte aktivis, Michal Poleg, word in haar woonstel in Tel Aviv aangetref. Haar liggaam toon tekens van 'n gewelddadige aanval. Dit vuur Anat aan om die waarheid agter die moord op te spoor. Wanneer 'n vlugteling uit Afrika homself oorgee as die moordenaar, en Anat se bevelvoerder haar druk om die saak te sluit, stuit dit haar nie om dieper te delf in die gebeure wat in die paar dae voor die moord op Michal afgespeel het nie. Michal het in die proses gaan krap aan iets diep en gevaarlik. Itai, Michal se effe onbeholpe, maar sjarmante baas, span kragte saam met Anat wanneer sy al dieper ingetrek word in die komplekse en korrupte wêreld waaraan vlugtelinge bloodgestel is.
Asylum City is 'n mooi vehaal wat lig werp op die omstandighede waarin vlugtelinge hulself in 'n vreemde land bevind. - Sandra Marais













