Die aktrise dame Janet Suzman gesels op 13 April met Chris Thurman, 'n kundige oor die werk van Shakespeare, in 'n spesiale gesprek wat om 17:30 in die Baxterteater in Rondebosch, Kaapstad, gehou word.
Die spesiale gesprek val saam met die Baxter se aanbieding van Shakespeare se Othello met Atandwa Kani in die naamrol.
Die regisseur van Othello is Lara Foot en dit speel af gedurende Duitse kolonialisme in die ou Suidwes-Afrika.
LEES OOK | 'Othello': 'n Ander Kani op sy eie pad van verandering
Suzman, wat in Suid-Afrika gebore is, is 'n dame wat as Kommandeur van die Orde van die Britse Ryk vereer is vir haar bydrae tot die dramakuns. Sy het in 2006 vir die Baxter en die Royal Shakespeare Company 'n produksie van Hamlet geregisseer.
Suzman het danksy 'n Engels-onderwyser reeds op skool lief geword vir Shakespeare se werk. Die onderwyser het haar bewus gemaak van die kompleksiteit, snaaksheid en lewenskragtigheid van Shakespeare se karakters.
Suzman het aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) studeer, en daarna toneelspel by Lamda in Brittanje, voordat sy haar in 1964 by Peter Hall se geselskap aangesluit het. Sy het in haar loopbaan tientalle groot rolle in die teaters in Londen vertolk, asook in rolprente en op televisie.
Sy het twee keer die Evening Standard-toekenning as beste aktrise gewen en is in 1971 vir sowel 'n Oscar as 'n Golden Globe benoem vir haar spel in die rolprent Nicholas and Alexandra.
In 1987 het sy John Kani as Othello geregisseer in die Markteater; sy het dit as protesteater teen apartheid aangepak. Sy meen dit is opwindend dat Kani se seun, Atandwa, nou die rol van Othello vertolk in Foot se weergawe wat ná apartheid opgevoer word. Sy meen dit is tekenend van Shakespeare se veelsydigheid en die vermoë van sy skryfwerk om steeds die waarheid van die oomblik vas te vang.
Thurman is die direkteur van die Tsikinya-Chaka-sentrum by Wits, president van die Shakespeare-vereniging van Suid-Afrika en stigter van Shakespeare ZA. Hy het verskeie publikasies oor Shakespeare die lig laat sien.
Othello word van 6 April tot 4 Mei elke aand om 19:30 in die Pam Golding-teater in die Baxter aangebied. Daar is middagvertonings op Sondae om 14:00 en sekere opvoerings in die week om 11:00.
Kaartjies vir die gesprek met Suzman beloop R100 en is by Webtickets beskikbaar.























