Dans

Veldtog wat kunste steun kort self dringend hulp

Die veldtog Waiting in the Wings SA (WITWSA), wat verlede jaar begin is om aanvanklik werklose dansers en later ook ander kunstenaars en werknemers in die vermaakbedryf tydens die staat van inperking te steun, se beursie is amptelik leeg.

Megan Carelse en Owen Lonzar bestuur die projek Waiting in the Wings SA.
Megan Carelse en Owen Lonzar bestuur die projek Waiting in the Wings SA.

Volgens Owen Lonzar, choreograaf en stigter van die veldtog, is hulle nou glad nie meer daartoe in staat om koopbewyse vir kos aan kunstenaars te verskaf nie.

"Ons het meer as 300 aansoekers wat wag (op koopbewyse) en ons kan hulle nie help nie; ons is platgeslaan daaroor."

Lonzar het hom in Mei verlede jaar tot skarefinansiering gewend om R50 000 in te samel vir dansers wat gewoonlik by korporatiewe geleenthede optree, maar weens die Covid-19-pandemie hul werk en inkomste kwyt is. Hy het saam met 'n sosialemediaveldtog binne 'n week R44 000 ingesamel en 'n bykomende R23 000 binne 'n uur deur 'n Facebook-konsert wat saam met Megan Carelse saamgestel is. Carelse bestuur sedertdien die WITWSA-projek saam met Lonzar.

"Ek het die skarefinansieringsveldtog op R170 000 gestaak en sake daarna met ons eie bankrekening bedryf. Ons het honderdduisende rande ingesamel en meer as 600 koopbewyse uitgedeel," sê Lonzar.

"Ons het aan die begin ook geld aan mense voorsien om hul huur te betaal, maar ons doen dit nie meer nie.

"Ons het ook twee aanlyn vertonings - Open Spaces en Come Fly With Us - geskep. Albei vertonings is met basies geen begroting geskep nie en al die inkomste is gedeel tussen die kunstenaars en tegniese personeel, met 'n bedrag wat ook aan WITWSA gegee is om ander (kunstenaars) te voed."

Hy sê hulle het hul geld deur skenkings aangevul, maar besluit om nie as 'n organisasie sonder winsbejag te registreer nie omdat hulle aangeneem het die projek is 'n "korttermynoplossing vir 'n korttermynprobleem".

Weens die pandemie wat net nie wou wyk nie het hulle toe besluit om hul sakemodel te verander sodat kunstenaars deur optredes geld kan verdien terwyl hulle ook ander finansieel steun wat nie daartoe in staat is om te werk nie, maar strenger Covid-19-maatreëls het dié plan gekortwiek en die geld wat wel kon inkom, was volgens Lonzar nie genoeg om die "intense" behoefte aan hulp te bevredig nie.

Die bedryf is in 'n aaklige situasie met almal van ons (kunstenaars) wat by die huis sit en geen inkomste kan verdien nie. Ek self het nog net twee optredes sedert Maart verlede jaar gehad.

—  Owen Lonzar

Hoewel hulle reeds steun van die filantroop Carolyn Steyn en die Eastgate-winkelsentrum gekry het, doen hulle 'n beroep op die publiek om hulle ook te help.

"Ons hou nie daarvan om bakhand te staan nie, maar as enigiemand iets wil skenk, kan hulle ons deur ons Facebook-blad (klik hier) of Instagram-profiel (klik hier) kontak.

"Ons wil ook graag vir meer kunstenaars werk gee, so enigiemand wat 'n aanlyn geleentheid aanbied en vermaak benodig, kan ons nader om dit aan hulle te verskaf.

"Ons gaan ook albei ons vertonings (Open Spaces en Come Fly With Us) vanaf 1 Februarie op die internasionale webwerf Fan4Me stroom. Dit sal wonderlik wees as mense dit kan kyk om kaartjieverkope 'n hupstoot te gee."

Hy sê hulle hoop ook om in die nabye toekoms 'n WITWSA-masker te verkoop, maar hulle het nie tans die geld om dit te vervaardig nie; hulle soek daarom 'n vennoot wat dit kan vervaardig en hulle sal toelaat om die koste daarvan later terug te betaal wanneer die maskers verkoop word.

"Die bedryf is in 'n aaklige situasie met almal van ons (kunstenaars) wat by die huis sit en geen inkomste kan verdien nie. Ek self het nog net twee optredes sedert Maart verlede jaar gehad.

"Ek het idees wat 'n inkomste vir so baie kunstenaars kan genereer, maar ons kan dit eers implementeer as ons weer op vlak 1 is."

  • Kunstenaars wat hul name op WITWSA se waglys vir koopbewyse wil sit, is welkom om 'n aansoekvorm op hul Facebook-blad te voltooi en in te dien.
Christiaan Boonzaier

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM