Die jazzfees-droogte in Kaapstad is uiteindelik gebreek.
Ná vier jaar wat op die Covid-19-pandemie gevolg het, vind die Kaapstad Internasionale Jazzfees weer plaas en die fees se mondigwording gaan luisterryk gevier word.
Meer as 30 kunstenaars, onder wie agt wat uit die buiteland kom, gaan op 3 en 4 Mei in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum optree. Dit word op 2 Mei voorafgegaan deur 'n gratis konsert op Groentemarkplein, waar geen alkohol toegelaat word nie.
Gratis meesterklasse en slypskole word op 4 Mei die hele dag in die arena van die Kunstekaap-teatersentrum aangebied.
Die fees wys vanjaar dat niemand te jonk of te oud is om deel van die jazz-familie te wees nie. Die jongste kunstenaar is DJ Sophia wat 11 jaar oud is, en een van die oudste deelnemers is die legendariese pianis en komponis Mervyn Africa, wat in die 70 is. Sophia tree saam met DJ Eazy by die gratis konsert op.
Kunstenaars wat al groot naam gemaak het sedert hulle by vorige feeste opgetree het, is Lira, Freshlyground, Black Coffee, Simphiwe Dana, Thandiswa Mazwai, Shekhinah, Jonathan Rubain, Goldfish, GoodLuck, The Soil, Mafikizolo, AKA, YoungstaCPT, Beatenberg, The Brother Moves On en Sho Madjozi.
Van hulle is ook op vanjaar se program.
Suid-Afrika se platinumverkoper en Afro-jazzkoningin, Judith Sephuma, is een van die groot trekpleisters. Sy is op die hooffees en by die gratis konsert.
Nog 'n platinumverkoper, The Voice South Africa-ster Ami Faku, en die Hilton Schilder-kwartet, wie se unieke Kaapse jazz-klanke aan hulle 'n groot plaaslike aanhang besorg het, is op die hooffeesprogram.
Die immergewilde plaaslike groep Mi Casa wie se enkelspeler "Who Cares" saam met Malik Harris op trefferlyste boer, sal optree.
Nog plaaslike kunstenaars wie se aanhangers nie teleurgestel sal word nie, is die amapiano-jazz-oorkruising-kunstenaar Daliwonga, die Afro-house-musikant Mörda, die energieke MacG en die platejoggie Jab a Jaw.
Van die internasionale deelnemers is Gretchen Parlato wat vanjaar vir 'n Grammy benoem is in die kategorie beste album vir jazz-sang en die kitaarspeler Lionel Loueke. Hulle sal musiek van hul eerste duet-album, Lean In, uitvoer. Dit vertel die verhaal van die twee se vriendskap en samewerking van meer as 20 jaar. Hulle gaan 'n meesterklas in samewerking, interaksie en komposisie vir sangers en instrumentaliste aanbied.
Die bekende perkussiespeler en komponis Darshan Doshi saam met die res van sy trio, die saxofoonspeler Mark Hartsuch en baskitaarspeler Tony Grey (Indië en VSA), tree op en gaan ook by die meesterklasse betrokke wees.
Die jazz-sanger Bev Scott-Brown neem die leiding by die verskillende sessies van die slypskole. Plek is beperk en diegene wat die geleentheid wil bywoon, moet aanlyn by https://www.capetownjazzfest.com/ctijf-2024-masterclass-registration-form/ bespreek.
Van die ander internasionale musikante is Tunde Baiyewu van Lighthouse Family (Brittanje), die alternatiewe R&B-groep Moonchild (VSA), asook die Grammy-wenner, basspeler, sanger en liedjieskrywer MonoNeon (VSA).
Vir 'n volledige lys van al die kunstenaars en meer inligting oor die fees, besoek www.capetownjazzfest.com. Kaartjies moet vooraf by Ticketmaster.co.za gekoop word aangesien dit 'n kontantvrye geleentheid is.
https://www.capetownjazzfest.com/ctijf-2024-masterclass-registration-form/





















