Anna-Mart van der Merwe is te sien in Terminaal 3, 'n toneelstuk deur die Sweedse dramaturg Lars Norén wat in Afrikaans deur Marthinus Basson vertaal is. Anna-Mart het Sondag in Stellenbosch die Fleur du Cap-prys vir die beste aktrise vir haar spel in Valsrivier, die vorige teaterstuk waarin sy te sien was, gewen. Ilza Roggeband het met haar gesels.
Wat het jy die afgelope twee jaar die meeste gemis?
Die gesprekke, interaksies en ontdekkingsreise saam met ander akteurs en die regisseurs tydens repetisies.
Terminaal 3 klink na swaar musiek. Is dit?
Terminaal 3 is 'n fyn stukkie klassieke kamermusiek vanuit Lars Norén se pen en briljant vertaal deur Marthinus Basson.
Dis 'n voorreg om in mens se eie moedertaal aan 'n kontemporêre Sweedse teks te werk.
Wat is die eerste gedagtes wat by jou opkom wanneer jy aan die KKNK dink?
Nood leer bid, soel someraande en die sagte blou berge van die Klein-Karoo.
Hoe sien jy die toekoms van feeste?
Die pandemie het ons almal op verskillende maniere aangeraak en ook emosioneel geskuif. Ek voel daar moet dalk vreesloos met die pandemie-kopskuiwe na die funksie en raison d'être van die onderskeie feeste gekyk word. Wat is die bydrae wat dit die huidige Suid-Afrikaanse kultuurlandskap bied?
Wat anders het jou die afgelope tyd besig gehou?
TV-werk soos Reyka en opnames van verhoogstukke het gedurende die twee jaar voortgegaan.
Is daar 'n rol wat jy graag nog wil speel?
Nee, ek vertrou die heelal weet beter . . .
Wat is jou raad aan akteurs wat aan die voorpunt van hul loopbane staan?
Wees eerlik met jouself en wanneer jy iets aanpak, gee alles wat jy het. Daar is geen reg of verkeerd nie. Daar is net die geleentheid om te groei en te leer. Moenie dat angs of behoefte aan goedkeuring jou op jou pad as kunstenaar kniehalter nie.
Wat gaan jy terugneem huis toe wanneer jy Oudtshoorn verlaat?
'n Kartondoos vol heerlike plaaslike wyne, 'n gevoel van dankbaarheid en goeie herinneringe.
- Terminaal 3. Drama. Vanaand om 18:30 en môre om 09:00 in die Johnny Bisschoff-saal.





















