KKNK

'Marli van Breda is die ware heldin'

Julian Jansen en Ivor Price. Foto: Jaco Marais
Julian Jansen en Ivor Price. Foto: Jaco Marais

Henri van Breda is 'n sjarmante, hoflike jong man wat terugstaan by deure sodat vroue eerste kan deurstap. Iemand wat nie omgee om 'n kamera in die oë te kyk nie.

Maar die lang Stellenbosser wat aangekla is vir die moord op sy pa, Martin, sy ma, Teresa, en broer, Rudi, en poging tot moord op sy suster, Marli, is ook 'n selfversekerde mens wat nie bang is om dikwels van voorkoms te verander nie - van 'n woeste baard tot 'n skoongeskeerde babagesig, van 'n donker krulkop tot 'n kaalkop.

Voor 'n volgepakte saal as deel van die KKNK-Boekgespreksreeks het die joernalis Julian Jansen vertel hoe hy drie jaar gelede by die moordnag in die rykmanshuis in die middel van die "fort" of "Alcatraz" De Zalze naby Stellenbosch betrokke geraak het - 'n tragedie wat gelei het tot sy boek Die De Zalze-moorde.

Marli van Breda.
Marli van Breda.

Op 'n vraag van die TV-joernalis Ivor Price oor die blootstelling van die moordbeskuldigde, dat "Henri nou al 'n bietjie van 'n popster is" omdat hy gereeld op voorblaaie pryk, het Jansen saamgestem dit lyk nie of sy berugtheid hom pla nie.

"Toe ons die eerste keer in die hof instap, het almal geglo hý's die man wat sy gesin uitgewis het. Nou is daar al selfs 'n joernalis of twee wat glo daar is geen manier waarop hy die moorde kon gepleeg het nie. Van hulle sê so 'n ordentlike outjie kon dit nie gedoen het nie."

Twee maande voordat regter Siraj Desai uitspraak gaan lewer in dié opspraakwekkende saak, is Jansen versigtig om 'n openbare mening hieroor te waag. Tog sê hy: "Dit wil vir my lyk of daar 'n oorwig van omstandigheidsgetuienis is . . ." Hy was ook nie beïndruk met Van Breda se hofgetuienis nie. "Dit lyk amper of die man hom in 'n hoekie kon vasgeverf het. Van alles wat in die hof gesê is, praat die bloedspatselpatroon die hardste . . . dis dat die slagoffers na aan hul aanvaller was."

Sy was maar 'n kind. Die lewe lê nog voor haar. As ek kan kies, hoop ek sy onthou nooit wat voor haar oë afgespeel het nie. Hoe verwerk 'n mens sulke grusaamheid?

Jansen het die gehoor vasgenael laat luister na sy ervarings in dié "storie", van die eerste oomblik dat hy op die moordtoneel met die geel polisielint gekom het, sy reis deur die ondersoekwerk van die polisie, sy kennismaking met die Van Breda-familie, tot in die hofsaal, waar hy maande lank gesit en luister het na die argumente van staats- en verdedigingsadvokate. "Dan sit Henri daar, draai die ring aan sy vinger om en om . . ."

Julian Jansen. Foto: Jaco Marais
Julian Jansen. Foto: Jaco Marais

Vir Jansen is die ware heldin die tiener Marli. "Sy was maar 16 toe sy aan dié grusaamheid blootgestel is. Sy het taamlike verdedigingswonde. Sy was maar 'n kind. Die lewe lê nog voor haar. As ek kan kies, hoop ek sy onthou nooit wat voor haar oë afgespeel het nie. Hoe verwerk 'n mens sulke grusaamheid?"

Jansen het "net een keer" na die foto's van die vermoordes gekyk. Henri se ma was verrinneweer. Dit lyk of Martin oor Rudi geduik het om vir hom te keer . . . en toe word hy met twee houe doodgekap.

Hy het hard gewerk aan sy boek, het Jansen gesê. "As jy met 'n ware moordverhaal werk, gooi jy nie sommer inligting in 'n pan en maak dit warm nie. Baie deeglike navorsing is nodig om die storie agter die storie uit te krap."

Marlene Malan

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM