Suidoosterfees

Sterk program vir 19de Suidoosterfees

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Brendon Daniels en Tinarie Van Wyk Loots is te sien in die drama ‘Opdrifsel’ wat op die 19de Suidoosterfees in Kaapstad opgevoer gaan word.
Brendon Daniels en Tinarie Van Wyk Loots is te sien in die drama ‘Opdrifsel’ wat op die 19de Suidoosterfees in Kaapstad opgevoer gaan word.

Teater, dans, musiek, komedie, 'n opera en boekgesprekke staan sterk op die 19de Suidoosterfees se volgepakte program.

Die fees word van 27 April tot 1 Mei in die Kunstekaap-teaterkompleks in die Strandgebied in Kaapstad aangebied.

Aangesien die feesbestuur sterk klem op die ontwikkeling van talent in al die kunsgenres lê, staan die jeug sterk op die program.

"Dit is baie belangrik, nie net om teatergehore vir die toekoms te ontwikkel nie, maar om jong talent die geleentheid te gun om hul werk te kom wys," sê Jana Hattingh, uitvoerende hoof van die fees.

Internasionale dansdag val in die feestyd op 29 April, daarom spog die fees met 'n Ballet-a-Thon wat saam met die Suid-Afrikaanse Internasionale Balletkompetisie aangebied word. Dit gaan buite die kompleks gehou word en sluit 'n balletklas en 'n repetisie met drie solo's en 'n pas de deux (dansduet) in. Voorts is daar drie ander dansitems op die program.

Op die boekprogram van die Suidoosterfees gaan die skrywer en digter Ronelda Kamfer oor haar debuutroman, ‘Kompoun', met Anastasia de Vries gesels.  Foto: Nathan Trantaal
Op die boekprogram van die Suidoosterfees gaan die skrywer en digter Ronelda Kamfer oor haar debuutroman, ‘Kompoun', met Anastasia de Vries gesels. Foto: Nathan Trantaal

Daar is eers begin Februarie finaal besluit dat die fees kan voortgaan te midde van die pandemie en die uitwoed van die Omikron-koronavirusvariant, sê Hattingh.

"Sedertdien is daar gewoel om die program bymekaar te kry. Ons kunstenaars het die feeste baie nodig en hulle het besig gebly om te skep."

Op die teaterprogram kan die nuwe musiekteaterproduksie Bientang: bloedspoor/!nau uitgesonder word. Dit is gegrond op Jolyn Phillips se bekroonde digbundel en handel oor een van die laaste strandlopers, 'n Khoi-vrou wat in 'n grot by Hermanus gewoon het en met diere kon praat. Phillips tree self daarin op teenoor Charlton George, met die musiekpaar Frazer en Deniel Barry. Die spelleiding is deur Amelda Brand.

Herschelle Benjamin se blinknuwe familiedrama, Agulhasvalkte, wat op 'n blommeplaas in die Overberg afspeel, kom ook na die planke in Kaapstad nadat dit saam met Bientang: Bloedpoor/!nau by die KKNK opgevoer is. Die hoofspelers is Kay Smith en René Cloete. So ook kom Ricardo Arendse se Die halwe huis met Marlo Minnaar. Dit handel oor Bumper Jansen wat op die rand van selfvernietiging staan, maar eers neem hy bestek op van sy lewe en die weë van die liefde, die pyn van verwerping en mense se verwagtinge wat te veel kan raak.

Kapenaars kry ook oplaas die kans om Philip Rademeyer se drama Opdrifsel te sien, met Brendon Daniels en Tinarie van Wyk Loots. Dit handel oor 'n ouerpaar wat die dood van hul kind probeer verwerk. Rademeyer is die regisseur.

Die spelers in die musiekproduksie ‘Bientang: Bloedspoor/!nau' is van links na regs Charlton George, Deniel Barry, Jolyn Phillips en Frazer Barry.  Foto: Nardus Engelbrecht
Die spelers in die musiekproduksie ‘Bientang: Bloedspoor/!nau' is van links na regs Charlton George, Deniel Barry, Jolyn Phillips en Frazer Barry. Foto: Nardus Engelbrecht

Die akteurs Cintaine Schutte en De Klerk Oelofse smee kragte saam vir die produksie Mutton Hour, waarin kort stories oor liefde, verlies en ook hansworse en katte vertel word. Dean Balie en Jemma Kahn het hulle help skryf aan die tekste. Volgens Hattingh het Balie, Schutte en Oelofse (die eerste Fiësta-Sinjatuur-pryswenners in 2021) die stuk in die inperkingstyd ontwikkel om in mense se huis op te voer en 'n bietjie daarmee te kan toer om só 'n inkomste te kon verdien te midde van die pandemie.

Frank Opperman, wat vanjaar op die KKNK vereer word, is te sien in die eenmanstuk Ek wens, ek wens, wat reeds groot aftrek op die opwipfeesaanbiedinge van Aardklop ontvang het. Dit handel oor 'n middeljarige begrafnisondernemer wat oor sy lewe besin nadat hy 'n terminaal siek seun ontmoet het. Dit is gegrond op Zirk van den Berg se bekroonde roman met dieselfde titel.

Koeksusters met die Suidooster-sepiesterre Christian Bennett, Dean Smith en Gantane Kusch debuteer op die fees. Die tema van die drama is geslagsgeweld.

Aanhangers van Antjie Krog se digkuns kan uitsien na 'n spesiale woordkunsproduksie, Die oerkluts kwyt, waarin die aktrise Antoinette Kellermann optree. Krog en Kellerman vier albei vanjaar hul 70ste verjaarsdag.

Vyf nuwe debuuttekste deur nuwelingdramaturge haal ook nou die planke in die Suidoosterfees se vlagskipprojek NATi Jong Sterre. Die skrywers is Stephren Saayman, Heloïne Armstrong, Melissa Myburgh, Jane Mpholo en Henque Heymans.

Vanjaar het die fees ook 'n nuwe inisiatief - NATi Jeugteater - wat produksies vir skoliere en studente insluit. Dit is die wenners van die ATKV-Tienertoneel wat die kans kry om met hul werk te kom pronk. Vanjaar was die Universiteit Stellenbosch, Northlink Kollege en die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie die uitblinkers. Jong teaterskeppers kan ook op die fees aan die ATKV-Tienertoneel-pakket deelneem, wat toegang tot topproduksies op die fees bied, asook slypskole deur veterane in die bedryf soos Schutte, Daniels, Gaerin Hauptfleisch, Opperman en Kellermann.

Op die musiekprogram staan Jika: Sounds of the SA Jazz Real Book uit, wat op internasionale jazzdag op 30 April aangebied word. Hierin word inheemse jazz soos kwela, ghoema, mbaqanga en tsaba-tsaba gevier.

Nataniël maak 'n Kaapse draai met Moscow, sy jongste vertoning, en onder die musiekaanbiedings tel onder meer ook Fortune.

In Suidooster Stormsterk sing die sterre van die gewilde sepie.

Die opera Don Pasquale aangebied deur AGL Opera haal die verhoog. Liefhebbers van klassieke musiek kan ook uitsien na Klassieke Divas waarin onder andere Janelle Visagie en Lauren Dasappa optree. 'n Zip Zap-produksie getiteld Moya snoer sirkusvermaak saam met akrobatiese toertjies.

Op die boekprogram gesels onder andere Ronelda Kamfer oor haar debuutroman, Kompoun, Kirby van der Merwe oor sy nuwe roman, Eugene, Audrey Jantjies oor haar debuut, As die katjiepiering blom, en Marita van der Vyver oor 'n Baie lang brief aan my dogter.

Daar is ook 'n sterk aktuele gespreksreeks.

Wynand Kotze, Conrad Koch, Riaad Moosa en nog ander tel onder die komedie.

Besoek die webblad suidoosterfees.co.za vir die volledige program. Kaartjies is by Computicket te koop. Spesiale afslagpakkette wat verblyf en vertonings insluit, is beskikbaar. Covid-19-maatreëls word by die fees gevolg.

CTA