Woordfees

Debute gaan selfs eike skud

Die US Woordfees op Stellenbosch vier volgende jaar sy 20ste verjaardag met die lywigste program tot nog toe. Dit sluit 22 toneeldebute in, 'n opwindende boeke- en diskoersprogram, musiek vir elke smaak onder die son (en maan), 'n kragtige aanbod van rolprent- en visuele kuns en twéé vlagskipproduksies uit eie bodem. Die literatuurfees is 'n fees op sigself. Die program is gister met 'n deurnagprogram bekend gestel. Die US Woordfees word van 1 tot 10 Maart in die Eikestad gehou. Elretha Britz gee 'n oorsig.

Toneel

Een van die groot debuuthoogtepunte is Katvoet, Nico Scheepers se verwerking van Tennessee Williams se Pulitzerdrama Cat on a Hot Tin Roof met Marius Weyers in die patriargrol. Die swaargewigte Marion Holm, Tinarie van Wyk Loots en Albert Pretorius speel ook hierin.

Joanie Combrink (middel), Frank Opperman (naasregs) en Aphiwe Livi (regs) is te sien in Toutjies & Ferreira. Ook in die toneelstuk is Antoinette Kellermann, Anthea Thompson, Esther von Waltsleben, Geon Nel, Wolfie Britz en Melanie Scholtz.
Joanie Combrink (middel), Frank Opperman (naasregs) en Aphiwe Livi (regs) is te sien in Toutjies & Ferreira. Ook in die toneelstuk is Antoinette Kellermann, Anthea Thompson, Esther von Waltsleben, Geon Nel, Wolfie Britz en Melanie Scholtz.

Die skrywer Dana Snyman en akteur Frank Opperman (akteur) sit hul suksesvolle samewerking voort met O, die donkie!, wat gaan oor die voormalige hoof van 'n model C-skool. Hy sien hoe die skool agteruitgaan, maar een oggend, pleks van bedank, stel hy sý kant van die saak.

SAMSON, deur die gevierde dramaturg-regisseur Brett Bailey, is 'n 21ste eeuse herverbeelding van dié Bybelse figuur. Deur 'n vervlegting van kontemporêre dans, elektroniese musiek, ensemble-sang en opera ontvou die intrige soos 'n meesleurende droom.

Die debuut Slavenhuis 39 gaan oor vier bruin studente wat die verlede met hedendaagse kwessies probeer versoen. Herschelle Benjamin is die skrywer en Philip Rademeyer die regisseur.

In Ou blou deur Amee Lekas leer drie vriende wat kindergeluk beteken totdat 'n tragedie hul dorp tref.

*Raadpleeg die feesgids (bl. 102-129) vir die volledige lys debute, wat met 'n geel "P" vir "Première" gemerk is.

Meer as 'n dosyn toneelstukke wat op ander feeste beproef is, word ook by die Woordfees op die planke gebring.

My seuns, 'n familiedrama, staan uit vanweë Sandra Prinsloo en André Odendaal as akteurs en Christo Davids as skrywer. All My Sons van Arthur Miller was die inspirasie en die stuk het ses bekronings op Aardklop ontvang.

Saartjie Botha se Toutjies & Ferreira vind byval oor die interessante gebeure die uur voor 'n vertoning.

Nog beproefde stukke is Endgame van Samuel Beckett(Antoinette Kellerman en Andrew Buckland), Huishou (Cintaine Schutte en Nadia Valvekens) oor twee wit vroue wat 'n swart kind wil aanneem, en Babbelagtig (met onder andere De Klerk Oelofse).

Klassieke musiek

Die pianis Olga Kern is boaan die klassiekemusieklys - nie omdat sy die enigste internasionaal gevierde musikus op die fees is nie, maar omdat sy werklik topklas is. Sy speel werke van Schumann, Gershwin, Rachmaninoff, Skriabin en Balakiref.

Olga Kern
Olga Kern

'n Interessante kombinasie is die Cyber Bird Concerto vir saxofoon (David Salleras van Spanje), klavier (Christopher Duigan), slagwerk en orkes (US Simfonieorkes) deur die Japanse komponis Takashi Yoshimatsu. 'n Werk van Brahms en van Dvorak is ook op die program.

Charl du Plessis se nuutste fokus is Beethoven se musiek wat hy sy unieke swing-behandeling gegee het. Die Maanligsonate, Für Elise en die Keiserconcerto is van die verwerkings wat sy trio sal uitvoer.

Kom luister ook na (David) Bowie Baroque, die 12-jarige wonderpianis Zi Ning en die Libertaskoor.

Rolprente

Die Afrikaanse rolprentaanbod is besonder sterk. In Ellen: Die Ellen Pakkies storie, Nommer 37 en die Chris­tiaan Olwagen-trilogie Johnny is nie dood nie, Kanarie en Die seemeeu word pakkende stories van die Kaapse Vlakte tot die Grensoorlog en Voëlvry-beweging van die 1980's vertel.

Daar is ook die eerste Sotho-Western, Five Fingers for Marseilles, en The Fun's not Over oor James Phillips (Bernoldus Niemand), die vonk vir die Voëlvry-beweging, om na uit te sien.

Visuele kuns

Benewens die feeskunstenaars Selvin November se abstrakte skilderye oor slawerny en vryheid en Penny

George se drukkuns, is daar ook uitstallings oor die 2019-verkiesing deur Hennie Meyer en die groepuitstalling Ek sien jou, ek is hier.

Koppesneller deur Alessandro Pappada is 'n skattejag waarin hand­gemaakte keramiekkoppe versteek word. As jy een vind, kan jy dit hou.

Sanlam-musiekfees

Gegewe die ellelange teks oor ligte musiek lyk dit of geen musikant oorgeslaan is nie. Hulle tree op in die Coetzenburg-atletiekstadion, Jan Marais-natuurreservaat en Weltevreden-restaurant, op die Spier-landgoed en in die stadsaal.

Die moeder van alle buitelugmakieties skop die Woordfees op 1 Maart af met Karen Zoid, Dan Patlansky en Kahn Morbee wat die musieksepter swaai.

By nog 'n buitelugkonsert kan Theuns Jordaan, Bombshelter Beast en Appel saam met Elandré Schwartz en talle ander Afrikaanse sangers gehoor word.

Hannes Coetzee (links) en Frazer Barry slaan die kitaar in Lepeltjie vol snare
Hannes Coetzee (links) en Frazer Barry slaan die kitaar in Lepeltjie vol snare

Musiek en liriek: 40 jaar later, met onder andere Anton Goosen, Jannie du Toit, Valiant Swart, Laurinda Hofmeyr en Zolani Mahola, bring met liedjies soos "Kruidjie-roer-my-nie" en "Sprokie vir 'n stadskind" hulde aan dié vroeë musiekbeweging.

Amanda Strydom, Corlea Botha, Elvis Blue en Joshua na die Reën is die eerste keer saam op een verhoog in Toe ek 20 was. Hul nostalgiese blik op die verlede word versterk deur die bekende Akustika-kamerkoor en hul briljante harmonisering.

Die Soweto String Quartet en Loki Rothman gaan die voete laat jeuk met kwêlas en ritmes, en die US Jazz Band vier tien jaar met 'n makietie onder die sterre. Bring gerus danstekkies saam vir dié uitvoering met Tarryn Lamb, Mihi-Tuwi Matshingana en Anneli Kamfer.

Die musikante wat die stadsaal warm gaan sing, is onder andere Amanda Strydom, Francois van Coke, Coenie de Villiers en Spoegwolf.

Moet ook nie vergeet van die jolige Boogie Show met Jarrad Ricketts en The Rockets nie, en vir iets rustigers Frieda van den Heever se tydlose liedjies en Lepeltjie vol snare deur Hannes Coetzee en Frazer Barry. Jak de Priester, André Terblanché en Niël Rademan tree ook in Weltevreden op.

Vir Kaapse jazzklanke is Steve Newman, Schalk Joubert, Ramon Alexander, Alistair Andrews en ander die aangewese kunstenaars.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM