Alles omtrent Kaapstad, sy geskiedkundige geboue en mense is die fokus van 'n groot tentoonstelling wat tot 30 November in The Cape Gallery, Kerkstraat 60, in Kaapstad te sien is.

Van die begin het Kaapstad ontstaan rondom 'n hawe, 'n tuin en 'n kasteel. In Cape Town: The People, Stories and Places word die stad in al sy gedaantes toe en nou bekyk. Die kyker loop met hul oë deur plekke soos die middestad, Distrik Ses, die Bo-Kaap en die Waterfront. Die werke weerspieël die kosmopolitiese herkoms van die stad. Die kroeë, koffieplekke, die winkels wat helderkleurige lap verkoop, haarkappers en talle winkels wat kurio's verkoop, word belig. Daar is werke in verskeie media te sien.
Onder die kunstenaars tel Gregoire Boonzaier, Katherine Bull, Tinus de Jongh, Piet Grobler, Tony Grogan, Solly Gutman, John Kramer, Nicolaas Maritz, Alexander Podlashuc, Lyn Smuts en Judy Woodborne. Vir navrae, kontak 021 423 5309. Die besoektye van die galery is van Maandae tot Vrydae van 09:30 tot 16:00 en Saterdae van 10:00 tot 14:00.





















