Oos-Kaapse kunsliefhebbers het nou weer die geleentheid om die lede van die East Cape Watercolour Association (ECWA) se jaarlikse kunsuitstalling in Gqeberha te besigtig.
Die nege kunstenaars wat hieraan deelneem, is Margaret Horn, Val Greenwood, Jenny Furlong, Erlina Pinnock, Eliria Haigh, Berto Mostert, Glenda Sampson, Robyn Roberts en Zelda Alistoun.

Daar is ook nie 'n vasgestelde tema vir die uitstalling nie en elke kunstenaar kon skilderye uit eie keuse hiervoor aanbied.
In 1986 is 'n waterverf-vereniging wat destyds bekend gestaan het as Group 11 gestig.
Die naam is in 1992 na die East Cape Watercolour Association (ECWA) verander.
"Deesdae is ons 'n groep van 20 kunstenaars wat twee keer per maand op 'n Woensdagoggend bymekaar kom om saam te skilder," sê Alistoun, voorsitter van die ECWA.

"Behalwe dat ons saam sit en skilder, word daar ook tydens dié byeenkomste waterverf-demonstrasies deur kundiges aangebied of kyk ons na insiggewende DVD's oor dié medium.
"Almal wat aan die ECWA behoort, is nie professionele kunstenaars nie, en amateurkunstenaars is welkom om by die vereniging aan te sluit.
"Ons bespreek ook dikwels mekaar se werk tydens die byeenkomste en bied dan raad aan vir verbetering.

"Die ECWA het die afgelope jare ook 'n uitgebreide biblioteek met boeke en DVD's oor waterverf opgebou."
Waterverf word dikwels as 'n ietwat uitdagende medium beskryf, maar daar is al hoe meer kunstenaars wat dié medium verkies.
Volgens Alistoun is dit 'n medium wat jou oorrompel as jy eers begin het om dit te gebruik en daarvan kan sy gewis getuig noudat sy self waterverf verkies bo die olieverf waarmee sy gewoonlik gewerk het.

"Ek het by die vereniging aangesluit om my waterverftegnieke vir vinnige waterverfsketse te voorbereiding van my groter olieverfskilderye te verbeter, nodeloos om te sê, dié idee backfired en nou reeds sewe jaar later, is ek totaal versot op waterverf!
"Ek hou van die manier waarop die pigment in die water beweeg en dan skei om die mooiste kleure te vorm," verduidelik sy.

"Verskeie lae kan ook met komplementêre mediums bygevoeg word om tekstuur te verkry. Van fyn gedetailleerde blomtonele, portrette tot dramatiese seetonele of nagtonele kan suksesvol met waterverf geskilder word sodra jy die tegniek onder die knie het.
"Die beste van alles is dat walms van mediums soos olieverf jou nie oorweldig nie en om die kwaste skoon te maak is nou 'n eenvoudige takie!"
Alistoun, soos verskeie van haar mede-kunstenaars by die vereniging, neem deesdae ook aan internasionale waterverfkompetisies deel.
Die uitstalling kan tot 28 November by Art on Target-kunsskool by Target Kloofweg 2 in Essexvale in Gqeberha besigtig word. Stuur e-pos aan zelda.alistoun@gmail.com om by die groep aan te sluit of bel Lil by 083 256 6578 of Margaret by 072 603 0100 vir meer inligting.





















