GRADEX 2022, UNMASKED, is 'n groepuitstalling wat deur die departement van visuele kunste van die Nelson Mandela-Universiteit (NMU) in Gqeberha aangebied word.
Dis 'n jaarlikse instelling waar die NMU se nuwe derdejaarstudente 'n geleentheid kry om hulle werk te kan uitstal en die publiek 'n geleentheid gegun word om dit te kan besigtig.

"Wie sou ooit kon dink dat toe julle as eerstejaarstudente by die universiteit geregistreer het, 'n wêreldwye pandemie in die nabye toekoms sou uitbreek!" het Bretten-Anne Moolman, kunsdosent aan die NMU en eienaar van die Art on Target-kunsskool in haar toespraak tydens die openingsaand van die uitstalling aan die studente gesê.
"Byna onmiddellik moes dié groep studente by die regulasies van die pandemie aanpas en aanlyn begin studeer. Nou is daardie uitdagende reis vir hulle op 'n einde en met dié uitstekende uitstalling het hulle bewys dat hulle genoegsame dryfkrag gehad het ten spyte van onverwagte en ongewone omstandighede.

"Om 'n loopbaan as kunstenaar te bou beteken dat jy aan gesprekke moet deelneem en uitstallings en geleenthede van dié aard moet bywoon om die industrie te leer ken," het Moolman gesê.
"Maar dit sal nie gebeur as jy nie genoeg dryfkrag het nie en om dit te hê beteken dat jy 'n doel voor oë moet hê en daarvoor moet jy verdraagsaam kan wees en geduld hê."

Die studente wat aan die uitstalling deelneem, is: Alexia Patsalos, Aristotelis Tzitzikas, Asavela Rono, Asavela Ntlikithi, Bongiwe Maqungo, Candy Jack, Chloe¨ van Rooyen, Cohan Muniz, Courtney Warwick, Daniel Spencer-Wilson, Daryn Alias, Emelia van der Walt, Gemma Miedema, Grace-Dave Menyha, Hannah Rumbelow, Haylee van Niekerk, Heide-Marie Fourie, Jaide Hermanus, Joel Mlambo, Joshuah Gallant, Kyle Nel, Lauren Bryans, Leana Mare´, Lisa Blane, Marne´ Ackermann, Mvuyelwa Nyushman, Nike´ Labuschagne´, Nonhlanhla Mthembu, Nonkululeko Masuku, Paula du Plessis, Pule Liholo, Rebecca Grey, Rotshidzwa Tangulani, Sarah Morris, Sivan Sahar, Sydney Fortune, Camryn van Aardt, Willy-Dean Myburgh, Yayama Madikizela, Zipho Mayibuthe en Zoe´ van der Walt.

Die uitstalling kan by die Nelson Mandela-Universiteit se Birdstraat-kunsgalery in Sentraal in Gqeberha van 09:00 tot 16:00 besigtig word.
Volg die studente op Instagram: GradEx_NMU (@gradex_nmu) of stuur epos aan gallery@mandela.ac.za of visualarts.mandela.ac.za.





















